Local newsNews

SA Poskantoor glo bankrot

Inligting wat in die VF Plus se besit gekom het, dui na beweering daarop dat die SA Poskantoor (Sapo), "nes alle ander staatsinstellings, bankrot is," en dat dit die rede is "waarom personeel van die poskantoor hierdie maand, vir ’n heel eerste keer, nie op betaaldag betaal is nie".

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, adv Anton Alberts.

Alberts sê die situasie is uiters kommerwekkend aangesien die Poskantoor een van die belangrikste nutsmaatskappye vir die land is waarsonder kommunikasie en sake-ondernemings skade kan ly, aangesien baie kommunikasie steeds nie-elektronies geskied.

“Die jongste verwikkeling kom op die rug van ’n verlammende staking wat die instelling aan die begin van die jaar reeds sowat R100-miljoen aan verlore inkomste gekos het.

“Boonop was die staking na bewering juis oor geld wat aan werknemers verskuldig is en die feit dat die Poskantoor nie meer as nul persent kon aanbied tydens loononderhandelinge nie.

Volgens die VF Plus se inligting het werkers op Woensdag, 24 September, oor ’n radiostasie gehoor hulle sou nie die volgende dag betaal word nie.

Dit is na bewering, op 25 September, per elektroniese boodskap met al die Poskantoor-personeel bevestig. Die betaling was 25 September eers gedoen.

“Daar word nou gevrees dat die situasie tot hernieude stakings kan lei en die groot vraag is wat in die komende maand gaan gebeur en of daar teen die einde van Oktober geld vir salarisse beskikbaar gaan wees.”

Alberts sê die VF Plus gaan vra dat die Ouditeur-Generaal (OG) die aangeleentheid ondersoek, aangesien dit dui op ’n moontlike verbreking van die Wet op Finansiële Openbare Bestuur. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button