Week plaas kalklig op gesonde huwelike

Internasionale Huweliksweek word vanjaar vanaf 1 tot 7 September in Suid-Afrika gevier.

Dit dien as ’n bewusmakingsveldtog en projek in Suid-Afrika, wat paartjies sal inspireer om weer op die welstand van hul huwelike te fokus.

Die week word gehou teen die agtergrond dat tot soveel as twee uit elke drie huwelike in egskeiding eindig.

Statistiek soos dié is kommerwekkend, meen Liezel van der Merwe, besturende redakteur van Intiem, wat gehelp het om die veldtog op die been te bring.

“Hoewel die Suid-Afrikaanse egskeidingsyfer in 2011 met 8,5 per sent gedaal het, is die laagste aantal huwelike ook in dié jaar geregistreer,” meen van der Merwe.

“Ons wil mense se geloof in die huwelik help herstel en aan elke paartjie die gereedskap bied om hul huwelik te beitel tot ’n gesonde, vervullende eenheid.”

Dus, gedurende Huweliksweek word die klem gelê op die belangrike invloed wat gesonde huwelike op die individu, die gesinstruktuur en eindelik die nasie het.

Felicia Buthelezi, eienaar van die tydskrif I do, wat ook die veldtog bystaan, meen: “Daar is soveel fokus op troues en só min fokus op huwelike. ’n Troue duur een dag en jou huwelik moet ’n leeftyd hou – mense het fokus en toerusting nodig om hulle te wys hoe om hiervan ’n sukses te maak.”

Verskeie media-platforms, bekende persoonlikhede, sake-ondernemings en beraders sal deelneem aan dié inisiatief. Regeringsleiers sal ook by die projek betrek word.

“Mislukte huwelike is ’n nasionale krisis in Suid-Afrika, wat dringend aangespreek moet word, want egskeidings het ’n direkte invloed op die welstand van ons samelewing,” sê Annelize Steyn, redakteur van Intiem.

“Misdaad, depressie, werkloosheid en alkoholisme is alles dikwels uitvloeisels van gebroke huisgesinne. ”Daarteenoor kweek gesonde huwelike ’n jeug met toekomsvisie.”

Danie van Eeden, koördineerder van Nasionale Huweliksweek, sê dié inisiatief is gerig op alle Afrikaans- en Engelssprekendes.

“Dit is tyd vir almal om hande te vat en weer op te staan vir die huwelik as ’n heilige instelling; ons doen hiermee ’n beroep op alle paartjies om verantwoordelikheid vir hul huwelike te neem en pro-aktief op te tree in die stryd teen egskeiding,”sê hy.

“Elkeen verdien ’n gelukkige huwelik en elke kind verdien die positiewe gevolge hiervan.”

Daar is ook Suid-Afrikaanse bekendes wat vanjaar Huweliksweek gaan ondersteun.

Soos verlede jaar, het talle plaaslike getroude pare weer ingestem om as ambassadeurs vir dié veldtog op te tree. In die woorde van Tshepo Mekgoe, ‘n pastoor en die eggenoot van Fikile Mekgoe, Mev SA 2012: “Dit is ’n baie positiewe inisiatief in die sin dat dit die konsep van gesonde huwelike dryf, om ’n bewustheid by mense te bring dat die huwelik baie mooi kan wees.”

Al die deelnemende pare is dit eens dat daar ’n hernude wíl onder Suid-Afrikaners is om vir huwelike te veg en nie weg te stap wanneer die pad moeilik raak nie.

Soos radio-persoonlikhede Thokozani en Bonole Nkosi tereg sê: “As dit koud is, trek jy ’n baadjie aan, maar jy verlaat nie die land nie. Moenie die huwelik verlaat wanneer dit winter word nie…”

Vir meer inligtingm, besoek www.myhuwelik.co.za, waar individue die geleentheid kry om te registreer en meer inligting oor die inisiatief te bekom.

Exit mobile version