Laerskool Witfield se hoof groet na 21 jaar

"And now, the end is near; And so I face the final curtain."

So lui die eerste twee reëls van Frank Sinatra se trefferlied, My Way, waarmee Laerskool Witfield se skoolhoof die einde van sy 21 jarelange loopbaan by die skool beskryf.

“Die gordyn het geval – my tyd by die skool is verby,” sê Piet Roos.

Vir 21 jaar het Roos Laerskool Witfield gelei na die hoogtes wat dit bereik het, maar sy aftrede het hom vinniger ingehaal as wat hy sou dink.

Roos se amptelike laaste dag by die skool was 30 April, maar die Departement van Onderwys het hom gevra om uit te help tot die aanstelling van die nuwe hoof.

Dit het die Advertiser die geleentheid gegee om hierdie inspirerende man by die skool te ontmoet.

Dit was April 1993 toe Roos sy loopbaan as skoolhoof by Laerskool Witfield begin het.

Roos se jongste seun, Jean-Pierre, was ook ’n leerder by hierdie skool in die tydperk wat hy skoolhoof was.

Nou dat Roos afgetree is, het hy en sy vrou, Anne-Marie, uiteindelik tyd om alles te doen wat hulle nooit kon doen nie.

“Al die jare moes my vrou tweede viool speel, so dit is nou tyd dat ek haar as eerste prioriteit terugskuif,” sê hy.

Roos noem dat dit nou ook tyd is om voltyds oupa te wees en dat sy twee kleinkinders van die belangrikste persone in sy lewe is.

“Ek noem hulle my engeltjies, al is hulle dalk nie altyd engeltjies nie,” lag hy.

“Dit is die beste gevoel om ouma en oupa te wees.”

Roos beskou die uitmuntende prestasies van die skool se gewese en huidige leerders as een van die hoogtepunte in sy tydperk as hoof.

Hy vertel dat daar oud-leerlinge is wat tans as mediese dokters, ingeneurs en prokureurs dien.

Die laagtepunt van sy loopbaan en wat hy graag sal wil vergeet, is dat hy vier leerders aan die dood moes afstaan.

In die jare wat Roos die skoolhoof van Witfield was, het die onderwysstelsel ses keer verander.

“Ons [onderwysers] moes verander en aanpas, maar dit het gehelp dat ek ’n fantastiese personeel as ondersteuning gehad het; dit is tog nie die hoof wat die skool maak nie,” vertel hy.

Vra jy hom wat hy die meeste gaan mis, antwoord hy: “Die kinders – hulle gesiggies. Daardie ‘môre meneer’, die drukkies en stories wat hulle vertel.

“Die kinders is fantasties – ek het nog nooit ’n slegte kind gesien nie. Die skool groei aan ’n mens.

“Dit is soos ’n byekorf by Witfield, want daar is altyd iets wat gebeur – die gom is ’n simboliek van die kinders wat die skool bymekaar hou.”

Roos erken dat hy nooit skaam was om enigiets vir die kinders te doen nie.

“Jy moet altyd iets opbouend vir ’n kind sê – kinders verstaan nie grootmens sarkasme nie; ’n kind moet leer om te glo in homself en grootmense moet hom of haar daarmee help,” sê hy.

Sy wense vir die skool is dat dit altyd net goed sal gaan met die kinders en dat daar ’n toekoms vir hulle is.

“Elke kind het ’n plek en doel – jy is nie net dààr nie,” sê hy. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version