Editor's choiceLocal newsNews

Helpende Hand verwelkom einde aan staking in Platinumgordel

Solidariteit Helpende Hand verwelkom die uiteindelike einde aan die staking in die Platinumgordel, maar beklemtoon dat die krisis nog lank nie opgelos is nie.

“Die negatiewe finansiële impak van hierdie staking sal nog maande lank gevoel word,” sê uitvoerende direkteur van Helpende Hand, dr Danie Brink.

“Hierdie staking het ’n ekonomiese stilstand en uiteindelike humanitêre krisis onder die inwoners van Rustenburg en Mooinooi veroorsaak.

“Honderde nie-stakers moet nou probeer om die stukke op te tel nadat hulle hul verblyf, vervoer, basiese behoeftes en menswaardigheid deur hierdie staking verloor het.”

Sedert Helpende Hand die Platinumgordel in April as ’n gedeeltelike rampgebied verklaar het, het die organisasie R2-miljoen se hulp in die area verleen en 135-ton kos versprei.

Volgens Brink sal Helpende Hand nie nou hulplening onttrek bloot omdat die staking tot ’n einde gekom het nie, omdat dit die inwoners maande kan vat om weer op hul voete te kom.

“Alhoewel die staking nou verby is, sal die myne eers oor vier tot ses weke weer oopmaak; dit beteken dat die nie-stakers nog ’n paar weke met geen of ’n verminderde salaris moet klaarkom,” sê hy.

“Daar is ook ‘n groot moontlikheid vir uitgebreide afleggings.”

Helpende Hand sal voortgaan om kos en ander basiese benodighede in die Platinumgordel te versprei vir solank as wat moontlik is.

Die organisasie het ook bykomende aksieplanne aangekondig om langtermynondersteuning aan nie-stakers in die Platinumgordel te verleen.

“Ons doen ’n beroep op die publiek, wat tot nou toe so onbaatsugtig aan die inwoners in die Platinumgordel geskenk het, om nie nou alle hulp en skenkings te onttrek nie en steeds die nie-stakers by te staan,” sê Brink.

“Hulle het steeds hulp nodig, nou meer as ooit, sodat hulle hul lewens weer kan herbou.”

Volledige inligting oor hoe om te help, waar om finansiële bydraes in te betaal en waar om goedere af te laai, kan bywww.staaknie.co.za gevind word. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button