Waarskuwing: Honde weer geteiken

Witfield inwoners word gewaarsku teen kriminele wat honde vergiftig om toegang tot eiendomme te vergemaklik.

Ongeveer ses honde is verlede week by die Boksburg DBV opgeneem en vir vergiftiging behandel.

Sommige honde is na private veeartse oorgeplaas om verder aan te sterk.

’n Inwoner van Edward Straat, Hester Kok, se hond, Andy, ’n Duitse herder, is in die vroeë oggendure van 19 Junie vergiftig.

Volgens Kok se dogter, Maria Botha, het hulle om ongeveer 8vm dié oggend opgelet dat Andy nie homself is nie.

“Hy het net gelê en daar het baie vloeistof by sy mond uitgekom; hy was baie pap en kon nie eers sy kop oplig nie,” sê Maria.

Sy beweer dat Andy ook aanvalle gekry het, dat sy hele lyf geruk het.

“Dit het omtrent drie keer in ’n halfuur gebeur. Dit is verskriklik om te sien,” vertel sy.

Maria sê dat niks uit hul eiendom gesteel is nie, maar dat hul bure se motorfiets blykbaar gesteel is.

“Ek dink die kriminele het ’n aantal honde in die straat vergifting, om hulle stil te maak vir wanneer hulle by die erwe probeer inkom,” is haar mening.

Sy sê dat selfs die voëls wat van die gif ingeneem het, dood in hul erf lê.

Teen Vrydag, 20 Junie, was Andy by die Boksburg DBV onder behandeling.

’n Ander inwoner in dieselfde straat, Juan de Jager, se hond is ook ’n slagoffer van hierdie gewetenlose daad.

Slash – ’n husky – sterk tans by ’n veearts aan.

Juan se ma, Jeanette de Jager, bedank die Boksburg DBV vir hul wonderlike werk.

“As dit nie vir hulle was nie, sou Slash dit moontlik nie oorleef het nie,” sê sy.

“Dit is die beste diens wat ek nog ooit ervaar het – alle lof aan die Boksburg DBV.”

Die Boksburg DBV se bestuurder, Wilma Steynbergh, moedig honde-eienaars aan om op te let en rond te kyk vir enige iets in hul erf wat verdag lyk, en ook vir vreemdelinge in die omgewing, wat moontlik huise dophou.

Om te voorkom dat honde vergiftig word, beveel Steynbergh aan dat hulle eerder agter in erwe aangehou word.

“Mense moet daarvan bewus wees dat dit ’n mite is dat honde waghonde is, en hierdie voorvalle is net nog ’n bewys daarvan,” sê sy.

Steynbergh stel ook voor dat honde eerder binne in huise slaap, maar lê klem op die feit dat vergiftiging nie net deur die nag gebeur nie, maar ook helder oordag.

Die inneming van gif is baie nadelig en beskadig alle organe van diere.

“Sodra mense iets vreemd opmerk met hul diere, moet hulle hul summier na die veearts neem,” sê sy.

Vir noodgevalle, kontak die Boksburg DBV by 083 763 6311.

Diere-eienaars word ook aanbeveel om die noodnommer van hul private veeartse byderhand te hou.

Volgens Luit Juanita Coetzer, van die Boksburg-Noord Polisiestasie, is nog geen honde vergiftiging insidente aangemeld nie.

Coetzer versoek persone om sulke voorvalle by hul naaste polisiestasie aan te meld. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version