VF Plus stry Sanral oor publieke vervolging

Die jongste dreigement van die hoofbestuurder van Electronic Toll Collection (ETC), Jamie Surkont, dat padgebruikers oor E-tol vervolg kan word, is lynreg in stryd met ’n onderneming wat die minister van vervoer in Maart vanjaar in die parlement hieroor gegee het.

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, adv Anton Alberts.

Alberts sê die minister se presiese woorde (Hansard, Woensdag, 5 Maart) hieroor was onder meer: “…Sanral is not going to use the road to sentence people”.

“Indien die regering daarom toelaat dat mense vervolg word, sal die VF Plus ’n strafregtelike klag teen die minister indien vir minagting van die parlement en inmenging in die parlement se gesag.

“Dit sal ook ’n verbreking van artikel 108 van die Wet op Verbruikersbeskerming wees, indien mense wat hul rekeninge by die Verbruikerskommissie ingedien het, wel vervolg word. Dit kom opsigself neer op ’n misdryf.

“Die ETC, Surkont, Sanral se hoof en direksie, asook die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kan daarom strafregtelik vervolg word indien dit gebeur.

“Dit is egter belangrik dat mense hul rekening by die Verbruikerskommissie moet indien en kla oor die tariewestruktuur wat eskaleer nadat ’n rekening sewe dae uitstaande is en dat dit onbillik is ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming.

“Indien mense tog in hegtenis geneem word, sal die VF Plus aan hulle bystand verleen,” sê Alberts.

Hy sê die VF Plus sal toesien dat ETC, Sanral en die minister van vervoer hulle streng by die wet hou.

Indien die NVG nie bereid is om klagte te ondersoek wat die VF Plus in die verband sal indien nie, sal die party in samewerking met die Tolhek Aksiegroep (TAG) beoog om privaat vervolging in te stel.

Mense wat meer inligting verlang oor hoe om ’n klag by die Verbruikerskommissie in te dien, kan die VF Plus se webwerf besoek by www.tolhekpetisie.org.za. Daar kan ’n skakel gevolg word om die nodige inligting te bekom. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version