Local newsNews

Kerk vier 120ste bestaansjaar met konsert

Die NG Gemeente Boksburg gaan sy 120ste bestaansjaar met ’n musiekkonsert op Sondag, 22 Junie, om 3nm vier.

’n Opwindende musiekprogram is vir die middag voorberei en die tema “Genade” gaan in al die items beklemtoon word.

Verskillende musiek items en voordragte sal deur lidmate en lede van die gemeenskap opgevoer word.

Die kore van Hoërskool Dr EG Jansen en NG Kerk Boksburg-Oos gaan ook die gehoor met hul stemme bekoor.

Volgens Choert Maartens, dien die konsert as ’n lofprysing om hierdie groot mylpaal van die kerk te vier.

Dié gemeente is op 15 Junie 1894 tydens ’n gemeentevergadering gestig.

Maartens sê die gemeente het oorspronklik moeder gestaan vir al die NG gemeentes aan die Oos-Rand, en selfs die ou Oos-Transvaal.

Met die oorspronklike grense wat gestrek het van Germiston in die weste verby Bronkhorstspruit in die ooste, Heidelberg in die suide tot Pretoria in die noorde, was dit ’n groot stuk aarde wat deur een predikant, vier ouderlinge en agt diakens bearbei moes word.

Na die stigting van die gemeente was daar vier wyke: Germiston, Elsburg, Boksburg en Springs.

“Hierdie wyke het met tyd elkeen hul eie plek van aanbidding gehad het en die dominee moes op ’n Sondag eers in Boksburg preek, dan per fiets ry na Springs vir die middagdiens en dan weer per fiets terugkeer na Germiston vir die aanddiens.”

Die aanvanklike gemeentegetal waarvan 462 volwaardige lidmate was, en 1007 siele, het vinnig aangegroei en spoedig was die getalle vêr oor die 2 000, en is die eerste gemeente afgestig, onder andere Germiston.

“Die jongste afgestigte dogtergemeentes, Boksburg-Suid en Boksburg Park, is dus in 2014 elk 50 jaar oud,” sê Maartens.

Die eerste kergebou is gebou op ’n standplaas – min of meer waar die apteek op die hoek van Market Straat en Trichardtsweg vandag is.

In 1912 is die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê.

Vandag staan die gebou bekend as Die Klipkerk in Voortrekkerweg.

“Die gebou het nie sonder baie moeite verdriet, en min fondse oorleef nie, want vandalisme is ’n groot kopseer, maar is vandag nog in ’n redelik goeie toestand,” sê Maartens.

Die gemeente self het na bewering drie jaar gelede doodgeloop, maar word nogsteeds gebruik vir die verkondiging van die Woord deur Boksburg-Suid gemeente.

“Om egter so ’n groot gebou in stand te hou is ’n duur operasie, en daarvoor is die eiendomskommissie totaal afhanklik van donasies,” sê Maartens.

Die gemeenskap, alle oudlidmate en leraars word uitgenooi om die feesvieringe by te woon.

Toegang is gratis en verversings sal na die konsert geniet word. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button