VF Plus verwelkom vervolging van Mdluli

Die VF Plus het die hofuitspraak ten gunste van die drukgroep Freedom Under Law dat die polisie se voormalige misdaad-intelligensiehoof, Richard Mdluli, vervolg moet word verwelkom.

Dit is volgens die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie, Pieter Groenewald.

Groenewald sê Mdluli het as hoof van polisie-intelligensie Suid-Afrika baie skade berokken, en die laksheid van die minister van polisie om daadwerklik op te tree, word betreur.

“Weens hierdie gebrekkige optrede kon misdaad nie behoorlik bestry word nie omdat interne spanning by intelligensie onder Mdluli se bevel, ondersoeke gestrem het.

“Misdaadintelligensie is uiters belangrik om misdaad effektief te bestry en die VF Plus hoop dat die vervolging van Mdluli spoedig afgehandel sal word, aangesien die bestryding van misdaad ’n prioriteit in Suid-Afrika behoort te wees,” sê Groenewald.

Mdluli is in 2011 geskors na bewerings van bedrog en korrupsie, sowel as aanklagte wat verband gehou het met die moord op sy voormalige minnares se man, Abel Ramogibe, in Februarie 1999.

‘n Nadoodse ondersoek het egter bevind dat Mdluli en sy mede-beskuldiges nie betrokke was by die man se dood nie en die aanklagte van bedrog en korrupsie is ook laat vaar.

Hy is heraangestel, maar is weer in 2012 geskors, hangende ’n hofaansoek van Freedom Under Law om die tersydestelling van die aanklagte teen hom te hersien.

Exit mobile version