Wegholsege vir Boksburg Rugbyklub

Boksburg se hoofafrigter, Lukas van der Schyff, is trots op sy span se vertoning.

Makopano Boksburg Rugbyklub het met ’n wegholoorwinning van 83-19 teen Elsburg Rugbyklub in die 2020/21 Makopano Covid Memorial Cup te Prince George Park op 11 September weggestap.

Die Uile (Boksburg) vleuel Peniel Maizela her drie keer agter die doellyn gaan kuier. Vleuel Brandon Swart het twee drieë vir die tuisspan aangeteken. Boksburg se losskakel en kaptein Henry Pike het 23 punte op die telbord gesit.
Boksburg se Reinhardt Venter het ook ’n uitstekende wedstyd gehad en is as die KWV Speler van die Wedstryd aangewys.

Die kaptein het na die afloop van die wedstryd gesê: “Ons het hierdie wedstryd nodig gehad na verlede week se wedstryd teen Witbank. Ons het nie Elsburg onderskat nie en ons as groep begin nou lekker saam staan en mekaar vertrou. Ons gaan hierdie week werk aan balhantering en verdediging.”

Boksburg se hoofafrigter, Lukas van der Schyff, is trots op sy span se vertoning.
“Die manne het baie goed gespeel. Dit was ook ’n lekker fiksheidsessie aangesien die ouens baie gehardloop het om drieë te druk. Hierdie Saterdag speel ons teen Springs en ons gaan hulle bietjie aanvat,” het die afrigter gesê.

Puntemakers: Henry Pike (een drie, nege doelskoppe), Peniel Maizela (drie drieë), Brandon Swart (twee drieë), Willem Botes (een drie), Keenan Oelofse (een drie), Takkie van Staden (een drie), Damian Diedericks (een drie), Craig Hudson (een drie), Deon Smit (een drie) en Bart le Roux (een drie).

Lees Ook: Boksburg Rugbyklub op die wenpad

Lees Ook: Plaaslike klubrugbyspan weer terug op die veld

   

Exit mobile version