InternationalSport

Oud-Jansie beïndruk as professionele rugbyspeler

Die Advertiser het by die rugbyspeler gaan inloer om meer uit te vind oor hom en sy loopbaan.

Ginter Smuts, ’n oud-leerder van Hoërskool Dr EG Jansen, is besig om sy stempel af te druk as ’n professionele rugbyspeler.

Die 23-jarige Smuts draf tans uit vir die Pumas, waar sy gereelde posisie skrumskakel is. Die Advertiser het meer gaan uitvind oor hom en sy loopbaan.

Hoe het jou loopbaan ontvou?

Na skool is ek by die Bulle se junior sisteem gekontrakteer. Ek het die Bulle op o-19 en o-21 vlak verteenwoordig. Na die twee jaar by die Bulle het ek ‘n geleentheid gekry om by die Pumas aan te sluit. Dit was op daardie stadium ‘n skuif in ‘n groter rigting omdat dit beteken dat ek ‘n kans sal kry om op ‘n hoër vlak te speel, die Curriebeker-reeks.

Wat is die hoogtepunte van jou loopbaan sover?

Een van my grootste prestasies was om in 2016 vir my skool, EG Jansen, se eerstespan in die Beeldtrofee-finaal uit te draf onder die afrigting van Regardt Botha en Anton Lubbe. Nog ‘n hoogtepunt sal wees die o-21 Curriebeker-finaal waarin ek gespeel het. Soos ons seisoen nou afloop, glo ek ons staan ‘n goeie kans om deel te wees van die Currie Cup Premier Division se uitspeelrondtes. Dit sal vir my ‘n groot prestasie wees.

Die taaiste opponent wat jy al in jou professionele loopbaan teëgekom?

Burger Odendaal.

Watter speler is ‘n inspirasie vir jou? Volg jy hul speelstyl?

Spelers wat my inspireer is Faf de Klerk en Cobus Reinach. Daar is baie wat ek kan leer by hulle en hul deelmaak van my speelstyl, maar dit hang af wat by die struktuur inpas en wat die afrigters het vir die span.
Jou beroep vereis dat jy gereeld moet reis. Is dit vir jou moeilik om baie van jou familie af weg te wees?
Dit kan moeilik raak met sekere tye deur die loop van die seisoen wanneer jy jou familie min sien. Ek dink dit gaan ook oor my persoonlikheid wat daarvan hou om tyd deur te bring saam met my familie en hartsmense.

Jy was ook al op Toks & Tops. Hoe was daardie ervaring vir jou?

Dit was wonderlik. Dit is ‘n goeie platform vir baie blootstelling. Ek dink ‘n ou soos Breyton Paulse wat so gesellig is en jou laat gemaklik voel langs hom op die skerm maak die ondervinding net soveel beter en lekkerder.

Voel jy nou al soos ‘n “celebrity”?

Glad nie. Dit is lekker om na ‘n wedstryd vir die jong seuns wat hul rugby-droom wil uitleef handtekeninge uit te deel en foto’s te neem, maar daar is nog baie wat voorlê voordat ek die titel kan aanneem.

Waarom is jy so passievol oor rugby?

My belangstelling in rugby kom van my grootwordjare. My familie is lief vir sport en het altyd rugby ondersteun. Ek dink my passie vir rugby kom ook van om te sien dat ons as ‘n span wat hard werk ons doelwitte kan bereik.

Wat wil jy graag in die toekoms bereik met jou rugby?

Ek dink enige speler se droom sal wees om sy land op die hoogste vlak te verteenwoordig, maar ek sal ook sê om die “journey” en jou loopbaan te geniet.

Vertel iets van jouself wat jou aanhangers nie weet nie?

Ek het ‘n NQF-vlak vier kwalifikasie in projekbestuur.

Het jy enige raad aan aspirant-rugbyspelers?

Onthou om dit te geniet en aan te hou opkyk wanneer dit moeilik raak. Wees “coachable” en nederig. Soms gaan daar ook opofferings wees.

Lubbe, wat vir twee jaar Smuts afgerig het by EG Jansen, het gesê: “As gevolg van sy goeie vaardighede en harde werk het ek geweet hy sou dit maak in die wêreld van senior provinsiale rugby. Dit is altyd lekker om te sien as jou spelers dit maak in senior rugby. Dit is tog wat ons doen op skoolvlak. Ons berei hulle voor om as seniors uitstekende sportmanne te word. Ek is verheug dat sy hardwerkendheid en deursettingsvermoë van hom ’n waardevolle speler van die Pumas maak.

Also Read: Kaylee gains acceptance to GWRI

Also Read: Pieter Jansen maak naam vir homself in Amerika se rugbykringe

   

Related Articles

Back to top button