Boksburg seëvier teen ERU in Valke Peregrine-liga openingswedstryd

Die Makopano Boksburg Rugbyklub het hul eerste wedstryd in die Valke Peregrine-liga vir 2021 op ’n hoë noot afgeskop.

’n Uitmuntende vertoning deur Makopano Boksburg Rugbyklub se agsteman, Brandon Swart, het sy span gehelp om 36-17 te seëvier teen East Rand United (ERU) tydens die Valke Peregrine-liga openingswedstryd wat op 22 Mei te Prince George Park plaasgevind het.

Dit was die eerste amptelike liga-wedstryd wat hierdie twee spanne gespeel het sedert die begin van die inperking in 2020.

Boksburg was op die dag die beter span ten spyte daarvan dat hul op ’n stadium met net 13 manne op die veld moes klaarkom weens twee geelkaarte. Hulle moes later weer met 14 manne speel na ’n verdere geelkaart. Daarenteen het die besoekers, ERU, een geelkaart gekry tydens die wedstryd.

Toe die fluitjie vir halftyd geblaas het was die telling 14-10 in die guns van Boksburg.

Lukas van der Schyff, hoofafrigter van Boksburg, het sy span en veral Swart, wie vier drieë gedruk het, geloof vir hul vertoning.

“Ons het aan die begin gesukkel, maar ons het later beter begin speel toe ons senters gapings in die verdediging oopgemaak het. Ons lynstane was ook uitstekend. In die komende weke gaan ons onder andere fokus op fiksheid,” het hy bygevoeg.

Die wen-kaptein, Henry Pike, het na die afloop van die wedstryd gesê: “Ons het goed gespeel, maar daar is steeds ruimte vir verbetering. Daar is baie faktore waaraan ons kan werk soos die seisoen aangaan.”
Volgens Piet Mnguni, kaptein van ERU, gaan sy span nie nou in sak en as sit na die nederlaag nie.

“Ons het goed gespeel die eerste 15 minute van die wedstryd. Die dissipline was ook daar in die begin, maar later het ons te veel gefokus op die skeidsregter. Ten spyte daarvan gaan vorentoe. Dit is ’n bou-jaar vir ons en die span gaan hard werk,” het Mnguni gesê.

Puntemakers
Boksburg: Brandon Swart (vier drieë), Johan Labuschagne (een drie), Henry Pike (drie doelskoppe), Joe Meyer (een drie)
ERU: Cameron Rooi (een drie, een doelskop, een strafskop), Kevin Plaatjies en Tesner Williams (een drie)

Spanne
Boksburg: 1 Nkatteko Ngonyama, 2 Takkie (Frederick Coenraad) van Staden, 3 Travis Howell, 4 Willem Botes, 5 Rynhard Venter, 6 Christo Diesel, 7 Danie Schultz, 8 Brandon Swart, 9 Johan Labuschagne, 10 Henry Pike, 11 André van Wyk, 12 Damian Diedericks, 13 Dwayne Fourie, 14 Keenan Oelofse, 15 Martin van Wyk, 16 Franna Botha, 17 Joe Meyer, 18 Dahn Stevens, 19 Plamedi Kaninda, 20 Stefan van Zyl, 21 Edzard van Baalen, 22 Peniel Tshiamia, 23 Michael Allers.
ERU: 1 Lihle Lolwane, 2 Branden Lee Haywood, 3 Lionel Koopman, 4 Rudy Thockey, 5 Moranye Archie Gibson Mosia, 6 Melumzi Nondobo, 7 Howard Tarwireyi, 8 Piet Mnguni, 9 Anele Magubane, 10 Kevin Christopher Plaatjies, 11 Herbert Boyce, 12 Cameron Rooi, 13 Graig Virgil Pienaar, 14 Curtley Christoffels, 15 Tesner Williams, 16 Damian Mentoor, 17 David (Tlhologelo Sekgabudi) Sathekge, 18 Morne Jansen, 19 Velile Tshabalala, 20 Mkhululi Mkhize, 21 Marius Stellenberg, 22 Ronaldo Chriswin Taboois, 23 Eric Mfundo Funani

Boksburg se tweedespan het ook ’n goeie dag op kantoor gehad en kon ERU se tweedespan met 21-14 wen.

Lees Ook: Valke releases Peregrine fixtures

Lees Ook: Former East Rand United coach joins the Valke

   

Exit mobile version