Local news

Merandie wil vreugde in haar kunswerke uitbeeld

Merandie droom daarvan om haar skilderye in 'n galery uit te stal.

Merandie de Jager (29) van Sunward Park het van jongs af daarvan gehou om te verf en teken, en nou deel sy haar kennis met ander as kunsonderwyser. Die Boksburg Advertiser het by haar aangeklop om meer oor haar liefde vir kuns uit te vind.

Wat het jou geïnspireer om die kunsbedryf te betree?
Ek kan nie sê dat dit net een ding was wat my geïnspireer het nie. Volgens my ouers het ek my eerste skets geteken toe ek twee jaar oud was. Dis toe hulle besef het dat ek potensiaal het om ‘n kunstenaar te word. Hulle het my nog altyd ondersteun en aangemoedig om in ‘n kunsrigting te gaan.
Toe ek 13 jaar oud was, het ek vir Tanja van Biljon ontmoet. Sy was een van my kunsjuffrouens en het ‘n groot invloed op my lewe as kunstenaar gehad. Na 15 jaar is sy steeds ‘n mentor vir my. My liefde vir kuns het net gegroei soos ek ouer geword het.

In watter tipe kuns spesialiseer jy?
Ek spesialiseer in skilderwerk met akrielverf, tekenwerk met verskillende mediums, en digitale kuns, insluitend animasie. Ek fokus ook daarop om diere te teken en te verf.

Is jy ‘n voltydse kunstenaar, of is dit meer van ‘n passie vir jou?
Ek is beide. Ek werk tans as ‘n voltydse visuele kuns onderwyseres vir Grade 10 en 11 leerders by Bud and Blossom Creatives.Ek is ook ‘n kuns onderwyser vir kinders sowel as volwassenes. In my vrye tyd hou ek daarvan om kuns te maak vir die plesier daarvan.

Watter suksesse het jy al as kunstenaar behaal?
As ‘n animasie kunstenaar het ek in 2018 my baccalaureus graad in animasie en draaiboekskryf behaal. Ek het die geleentheid gehad om vir twee weke as ‘n intern op die stel van die film Frank and Fearless (2018) te werk. Ek was ook deel van die na-produksie-span.
As ‘n visuele kuns onderwyser is een van my grootste suksesse om te sien watter positiewe impak ek op my studente se individuele reis as kunstenaars maak.

Hoe benader jy die kreatiewe proses vir ‘n nuwe stuk?
Dit hang af of ek teken of verf, en of dit vir werk of vir myself is. Oor die algemeen begin ek met beplanning. Ek soek inspirasie, wat van foto’s, prente of fisiese voorwerpe kan kom. Dan kyk ek watter materiale ek nodig het om die kunswerk te skep.
As ek iets nuuts wil probeer en nie seker is hoe om dit te doen nie, eksperimenteer ek om te sien hoe ek dit kan uitvoer. As ek dan tevrede is en alles in plek is, begin ek met die finale kunsstuk.

Kan jy jou artistieke styl beskryf en hoe dit oor tyd ontwikkel het?
My styl vir teken en verf is anders.
Ek het reeds my eie styl met tekeninge ontwikkel, maar ek eksperimenteer nog met verf.
Ek spesialiseer daarin om diere te teken, en ek hou daarvan om hulle in swart en wit met fineliners uit te beeld.
My tekenstyl is rof en ekspressief, ‘n mengsel tussen realisties en abstrak.
Die oë is vir my die belangrikste deel van die dier, en ek bestee die meeste tyd daaraan. Ek het my tekenstyl twee jaar gelede ontwikkel toe ek baie siek was en hoofsaaklik in die bed moes bly. Gedurende daardie tyd het ek baie geteken om myself besig te hou. Met verf geniet ek dit om in ‘n impressionistiese styl te werk.

Is daar tye waar jy voel inspirasie ontbreek? Indien ja, hoe hanteer jy dit?
Nee, ek sukkel selde met ‘n gebrek aan inspirasie.

Wie het die grootste impak gehad op jou loopbaan, en hoe het hulle jou werk gevorm?
My grootste invloede is my ouers en my mentor, Tanja van Biljon. My ouers het my altyd ondersteun en geweet dat ek ‘n kunstenaar sou word, selfs voordat ek dit self besef het. Tanja het my alles geleer wat ek vandag weet oor teken, verf en kunsgeskiedenis. Sy het my altyd aangemoedig om beter te wees as wat ek ooit gedink het ek kon wees.

Kan jy ‘n stuk bespreek wat besonders uitdagend was om te skep?
Mense is nog altyd ‘n uitdaging vir my om te teken en verf, veral portrette. Maar ek is besig om te verbeter.

Watter boodskap of emosie hoop jy om deur jou kuns oor te dra?
Ek wil graag vreugde, geluk en vryheid in my kuns uitbeeld.

Hoe balanseer jy jou artistieke visie met die verwagtinge van jou gehoor?
Ek maak tyd om kuns vir myself te skep, eerder as om altyd net aan die verwagtinge van my gehoor te voldoen. Hul opinies is belangrik, maar soms moet jy ook net jouself wees vir jouself.

Watter raad sou jy aan aspirant-kunstenaars gee?
Oefen, oefen en oefen. Dis die enigste manier waarop jy beter gaan word, selfs al moet jy dieselfde ding 100 keer teken. Glo in jouself en moenie moed opgee nie.

Wat wil jy graag in die toekoms bereik?
Ek wil graag een van my skilderye in ‘n galery uitstal.

Lees Ook: Plaaslike musikant blink uit by Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button