Local news

AfriForum maak Gauteng se blou- en groendruppel uitslae bekend

AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater.

Al die dorpe in Gauteng se drinkwater wat getoets is, insluitend Boksburg en Benoni, is skoon en drinkbaar. Dít is luidens die bloudruppeluitslae van AfriForum se nasionale blou-en- groendruppelprojek.

AfriForum het van Augustus tot November 2022 verskeie dorpe in Gauteng se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

“Ons kon vasstel dat al die Gautengse dorpe waarvan die drinkwater getoets is aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” het Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, gesê.

Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 16 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.

Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.

“Ons sal die nie nakoming verder ondersoek en optree waar nodig.

“AfriForum se nasionale blou- en groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word.”

“Dit is ook duidelik uit die Departement van Water en Sanitasie se blou- en groendruppelverslag dat daar rede tot kommer is in Suid-Afrika. Hoewel die toestand van die krag in Suid-Afrika erg en uitdagend is, kan dit nie vergelyk met die waterkwessie waarop Suid-Afrika afstuur nie,” het Ferreira afgesluit.

AfriForum sal ook sodra die departement hulle nuutste verslag bekendmaak dit noukeurig deurwerk en monitor.

“As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons sonder ophou die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.”

Also Read: Metro attending to mess at Dayan Glen dumpsite

Also Read: Atlasville mini dumpsite an apparent disaster for motorists, waste management

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button