Local news

Susan Badenhorst Voortrekkers se vaardighede tydens kamp getoets

Die Voortrekkers moes onder andere hulle eie skuilings bou om in te slaap.

Lede van die Susan Badenhorst Kommando het baie geleer tydens die verkenner se kompetisiekampe, Kamp Dryfhout, wat vanaf 14 tot 16 Oktober te De Bank Voortrekkergronde teen die Vaaldam gehou is.

Vyf verkenners, hulle offisier en ‘n ouer van die plaaslike kommando het die kamp bygewoon.

Volgens kommandoleier Gerhard Marais is Kamp Dryfhout se missie om ‘n geleentheid te skep om verkenners van verskillende kommandos en grade in verskillende aktiwiteite te laat deelneem.

“Dit is sodat ons vaardighede, soos leierskap, veerkragtigheid, innovering, aanpasbaarheid, geesbou, aansporing, stiptelikheid op ‘n spontane manier kon toets.

“Die totaal van 45 verkenners het, deur middel van digitale kommunikasie, sekere aanwysings en voorskrifte ontvang,” het Marais verduidelik.

Die kamp is afgeskop met die verkenners en Graad Sewes wat hulle eie skuilings moes bou om in te slaap. Tydens die naweek moes die deelnemers aan Kamp Dryfhout op vier geleenthede hulle eie maaltye voorberei met bestanddele wat voorsien was.

Vrydagaand is daar begin met die teorie van radiospraak en die boodskap van ‘Geniet jou jeug (Prediker 11)’ en die beginsel van spanwerk met kinders wat jy nie noodwendig ken nie, is beklemtoon.

Deel van die program was om vyf vure met verskillende tegnieke aan te steek (tradisioneel, antiek, son, elektries en chemies) en elke tegniek wat slaag, het bygedra tot ‘n item vir middagete.

Die kamp is afgesluit met ‘n kerkdiens en alle offisiere was dit eens dat hierdie kamp ’n jaarlikse instelling moet word.


Lees Ook: ‘n Dag van pret vir lede van die Susan Badenhorst Voortrekker Kommando

Lees Ook: Susan Badenhorst Voortrekkers kamp lekker


   

Related Articles

Back to top button