Local news

Helpende Hand Boksburg se Amanda laat groot leemte

Amanda was vir ongeveer 10 jaar betrokke by Solidariteit Helpende Hand.

Amanda Zeelie, ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand Boksburg, word onthou as iemand wat haar lewe daaran gewy het om ander te help.

Sy is onlangs in die ouderdom van 53 aan natuurlike oorsake oorlede.

Amanda het grootgeword in Witfield. Sy was in Witfield Laerskool en het gematrikuleer by Hoërskool Goudrif in 1986.

Sy het haar Biblioteekkunde graad met sielkunde as een van die hoofvakke in 1990 by die Randse Afrikaanse Universiteit (Universiteit van Johannesburg) verwerf.

Amanda het daarna gefokus op sielkunde en verwerf haar sielkunde honneursgraad in 1991. Sy het later ook gekwalifiseer as ‘n lewensafrigter.

Sy was ongeveer 10 jaar betrokke by Solidariteit Helpende Hand en het ook ‘n jaar terug die Solidariteit Ons Winkel in Witfield oorgeneem.

Volgens haar man, André (voorsitter van Helpende Hand se Boksburg-tak), laat sy ‘n groot leemte in die tak en vir almal wat haar geken het.

“Die naam Amanda beteken geliefd, en dit was sy vir seker. Sy was ‘n sagte, liefdevolle mens en ‘n wonderlike ma vir haar seun en die beste eggenoot waarvoor ‘n mens kon vra. Sy was ‘n pragtige mens, nie net van buite nie maar ook van binne.

“Sy het vir baie jare met Lupus saamgeleef en was omtrent elke dag in pyn maar dit het haar nooit gestop nie. Sy het ‘n jaar terug ‘n virale infeksie op die brein opgedoen maar steeds net voortgegaan en nog gedoen wat sy altyd gedoen het. Sy was elke dag besig met mense al was dit om hulp te verleen of om net te luister.

“Amanda sal nooit vergeet word nie en die gemis is ongelooflik groot,” het hy bygevoeg.

Sy laat haar man, seun, skoondogter, ouers, sussies, swaers en hulle kinders agter.

Lees Ook: Helpende Hand Boksburg het jou hulp nodig

Lees Ook: Helpende Hand wil Warm Winter Liefde gee

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button