NewsSchools

Eerste vroulike hoof aan stuur van Laerskool Baanbreker

Amanda Bacon (néé Cook) het geskiedenis gemaak toe sy vanaf 1 Junie die eerste vroulike hoof van Laerskool Baanbreker geword het. Bacon neem die leisels oor by Tom Hoffmann, wat einde Januarie 2021 afgetree het. Die 55-jarige het haar skoolloopbaan by Laerskool JM Louw begin en het dit by Hoërskool Voortrekker in 1985 voltooi. Daarna …

Amanda Bacon (néé Cook) het geskiedenis gemaak toe sy vanaf 1 Junie die eerste vroulike hoof van Laerskool Baanbreker geword het.

Bacon neem die leisels oor by Tom Hoffmann, wat einde Januarie 2021 afgetree het.

Die 55-jarige het haar skoolloopbaan by Laerskool JM Louw begin en het dit by Hoërskool Voortrekker in 1985 voltooi.

Daarna het sy haar Onderwysdiploma by Goudstad Onderwyskollege in 1988 verwerf, waar sy ’n trotse draer van groen akademiese erekleure was.

In Januarie 1989 het die jong Bacon by Laerskool Baanbreker se Graad Twee klas begin. Vanaf 1990 was sy by Graad Een tot en met 2001. Die top onderwyseres word aangestel as die graadhoof in 1994 by Graad Een en in Junie 2001 word sy na departementshoof bevorder.

Vanaf November 2020 het sy in die pos as adjunkhoof gedien. Na Hoffmann se aftrede het Bacon vanaf 1 Februarie laasjaar ingestaan as hoof van die skool.

Omdat onderwys vir Bacon ’n roeping is, is die opvoeding van die leerders vir haar meer omvattend as net akademie.

“My fokus rus op kwaliteitonderrig en akademiese uitnemendheid, die verbetering en ontwikkeling van ons fasiliteite asook om goeie sport en kulturele deelname te verseker.

“Dissipline is vir my belangrik en ononderhandelbaar. Ek sien dit nie net as ‘n stel reëls wat gevolg moet word nie, maar eerder dat alle Banies mekaar met respek sal behandel, verdraagsaam teenoor mekaar sal wees en met integriteit saam met mekaar leef.

“Dissipline skep juis ’n veilige ruimte en gee orde waarbinne leerders suksesvol kan presteer en hul menswees ten volle kan uitleef. Dit is dus vir my baie belangrik dat die Banie-familie die Banie-waardestelsel sal koester en daarvolgens sal leef.

“Deur my Christenskap wil ek graag ’n voorbeeld wees en Baanbreker se personeel en leerlinge geleenthede bied en ondersteun om hulle potensiaal ten volle te ontwikkel.

“Elke kind en personeellid in die skool speel ’n belangrike rol om te verseker dat Laerskool Baanbreker ‘n suksesvolle skool is. ‘n Skool waar kinders ten volle toegerus word om in enige hoërskool, van hul keuse, gelukkig en selfvervuld te wees,” het Bacon bygevoeg.”

Op 18 Maart 1989 het Amanda Cook met Francis Bacon getrou. Die egpaar het twee seuns (Dylan en Robert) en is ook nou trotse grootouers van ’n pragtige kleinkind.

Sy is baie lief vir haar gesin en familietyd is vir haar belangrik.

Volgens Francina Stroebel, skakelbeampte van Laerskool Baanbreker, is haar aanstelling opsigself baanbrekerswerk in eie reg.

“Die skool se beheerliggaam wens haar alle voorspoed toe in haar nuwe pos en wil haar hartlik verwelkom en geluk wens met haar aanstelling as hoof. Ons vertrou dat, met die hulp en ondersteuning van die gemeenskap, ouers en personeel sy hierdie taak suksesvol sal kan aanpak,” het Stroebel gesê.

“Onder haar leiding sal die skool aanhou groei as ‘n Afrikaanse skool met sterk Christelike waardes.

“Sy is ’n dame met ’n sprankelende geaardheid en haar ywer vir werk is aansteeklik. Sy is besonder verbeeldingryk, toegewyd en lewer uitstaande werk. Sy is iemand wat slegs met die beste tevrede is en sy is geseënd met al die nodige kwalitieite om van die onderwys ’n reuse sukses te maak.”

Lees Ook: Laerskool Baanbreker se hoof groet

Lees Ook: Laerskool Baanbreker se atlete blink uit

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button