EntertainmentLifestyle

Rubriek: Gepraat van … wanneer terroriste aan jou voordeur kom klop

Dit was ongeveer 23:15. Ek het TV gekyk. Skielik het die hele huis se vensters en deure geskud.

Amerika het sopas die 20ste herdenking van die terreuraanvalle wat op 11 September 2001 plaasgevind het, gevier.

Dit was die dodelikste aanvalle in die geskiedenis wat tot verreikende veranderings in die benadering teen terreur gelei het, nie net in Amerika nie, maar ook wêreldwyd.

Ek en my gesin het in Riyadh, Saoedi Arabië, gewoon toe dit gebeur het. Alle buitelandse werkers het in groot woonkomplekse gebly, soortgelyk aan meenthuiskomplekse in Suid-Afrika.

Dié kompekse was dadelik in inperking geplaas. Die ekstremiste in Saoedi Arabië het in die strate rond gery, skote afgevuur en oor die aanvalle gejuig. Geweldige spanning tussen “hulle” en “ons” het ontstaan.

Die aanvalle in Amerika was egter nie die begin van ons as buitelanders se probleme in Riyadh nie. Ons het in Januarie 2000 daar aangekom. My kind was in die British International School en my man ‘n vlieenier vir ‘n Britse maatskappy.

In 2000 was daar drie insidente waar Britse burgers as gevolg van motorbomme beseer is of gesterf het. In 2001 was daar nog drie sulke gevalle. En toe gebeur 11 September in die VSA.

Die voormalige President George Bush het die ekstremiste gewaarsku, maar niks kon hulle stop nie. In 2002 sterf nog buitelanders in twee motorbomaanvalle.

In Februarie 2003 word ons buurman doodgeskiet in sy motor terwyl hy by ‘n verkeerslig gewag het. Deur my kombuisvenster het ek Robert sien ry – hy het vrolik vir sy kinders gewaai. Twee ure later vind ons uit hy is dood. Sommer net so, omdat hy ‘n “Westerner” is.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … wanneer mens se hoopmeter in die rooi draai

Op 20 Maart 2003 begin die oorlog in Irak en ons in Saoedi Arabië wonder wat gaan ons volgende tref. Ons hoef nie te lank te wag nie.

Twaalf al-Qaeda selfmoordbomaanvallers het op 12 Mei 2003 drie verskillende buitelandse woonkomplekse in Riyadh aangeval. My kind se skool was in een van die komplekse en dit was nie ver van ons af nie.

Dit was ongeveer 23:15. Ek het TV gekyk. Skielik het die hele huis se vensters en deure geskud.

Ek het kamer toe gehardloop en my man wakker gemaak. “Dit was ‘n bom,” het hy gesê. Ek het by die voordeur uitgehardloop.

Verskeie van ons bure was reeds in die straat, almal effe histeries. Weer eens was ons komplekse in inperking geplaas. Gewapende wagte in pantservoertuie was by die hekke gestasioneer.

Nie lank daarna nie begin ons “ex-pats’ die land verlaat. Gesinne word in twee geskeur – vrouens en kinders gaan huis toe want dit is nie meer veilig nie. Ons moet ons mans agterlaat. Teen Julie 2003 was ek en my kind terug in Suid-Afrika. Terroriste het vir ons besluit.

Ons het baie goeie tye in Riyadh gehad, maar ons sal nooit die terreuraanvalle op ons “Westerners” vergeet nie. Net soos wat Amerika nie die aanvalle van 11 September 2001 sal vergeet nie.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … Outydse boerekos bly maar die lekkerste

   

Related Articles

Back to top button