EntertainmentLifestyle

Rubriek: Gepraat van … ek het gaan asem skep by die see

Al daardie skoonheid het nuwe lewe in my geblaas.

Uiteindelik het ek weer die geleentheid gehad om saam my dogter by die see te gaan vakansie hou. Ons het ses dae by die mooiste Knysna spandeer.

Ons het op die eerste dag my oorlede ma se as op ‘n pragtige klein strand by The Heads gestrooi. Ons het blomme gevat en dit saam met die as in die see gegooi. Die gety het nogal vinnig ingekom en ons was later kniediep in die koue water.

Na afloop van ons “seremonie” het ons so rukkie in die son op die rotse gesit en die natuurskoon bewonder. Daar was ook vissermanne om dop te hou.

Op ons tweede dag het dit gereën en dit was nogals koud. Ons het die winkels ingevaar en ook onsself met vis en tjips bederf.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … wanneer mens se hoopmeter in die rooi draai

Toe die son weer skyn het ons die Knysna Elephant Park besoek. Hier is die olifante mak en ‘n mens kan hulle voer en saam met hulle in die veld stap. Daar is natuurlik opgeleide natuurbewaarders wat seker maak ‘n mens bly veilig.

As ‘n olifant begin stap moet jy maar op ‘n drafstappie probeer byhou! En hulle is so gulsig vir hulle kos!

Dit was ‘n ongelooflike ervaring om so naby hulle te kon wees.

Wanneer die weer dit toegelaat het, het ons op Leisure Isle gaan stap.

Almal loop daar met hulle honde, sommige mense ry fiets. Dit neem 45 minute om rondom die hele eiland te stap en dit het my so uitgeput dat ek menige aand sommer vroeg-vroeg aan die slaap geraak het.

Ons het op ons laaste aand die sonsondergang by The Heads se uitkykpunte gaan kyk. Dit is ongelooflik hoog van daar bo af maar die uitsig oor die see en die hele Knysna, plus die lagoon, is asemrowend.

Ons het ook op die strand van Buffelsbaai gaan stap en ‘n draai gemaak by Brenton On Sea waar ons baie jare terug heerlike familie vakansies gehou het.

Die verskille tussen ‘n dorp soos Knysna en Boksburg of Benoni is wêrelde van mekaar – dit het werklik vir my gevoel ek is in ‘n ander land. Die vars lug, die natuurskoon en die veiligheid.

Diegene wat permanent daar woon is so bevoorreg.

Al daardie skoonheid het nuwe lewe in my geblaas en ek is reg vir die volgende skof by die kantoor totdat ons met Kerstyd weer ‘n blaaskans kry.

Ilse Watson is ‘n subredakteur by Caxton Local Media.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … ’n Yskastert vir my verjaarsdag

   

 

Related Articles

Back to top button