Opinion

#Rubriek: GEPRAAT VAN … Die titaniese stryd van die twee Goliats

Djokovic het gedoen wat nie veel mense gedink het moontlik is nie – hy het Nadal van sy klei-troon afgestamp.

Dit is nou reeds ou nuus dat Novak Djokovic die 2021 Franse Ope gewen het.

Vir my was die grootste wedstryd van die hele reeks egter die titaniese semi-finaal stryd van vier ure en 11 minute tussen Djokovic en Rafael Nadal, die verdedigende kampioen, op 11 Junie. Djokovic het gedoen wat nie veel mense gedink het moontlik is nie – hy het Nadal van sy klei-troon afgestamp. Nadal het vir ’n 14de Franse Ope-kampioenskap gemik.

Voor dié wedstryd was Nadal nog net twee keer in 107 wedstryde op die kleibaan van Roland Garros verslaan. Djokovic het hom in 2015 gewen en Robin Soderling in 2009. Dus, hy het 105 van sy 107 wedstryde op Roland Garros gewen. ’n Merkwaardige statistiek.

Aan die begin van die wedstryd het dit gelyk asof Nadal weer op dieselfde roete stap as verlede jaar se Franse Ope-eindstryd toe hy vir Djokovic gewen het. Hy het die eerste vyf potte in net 25 minute kaf gedraf – daarvoor het sy uitwissende voorhand gesorg. Maar toe hy vir die stel begin afslaan, het die foute ook begin. Hy het op breekpunt van die stel sy derde dubbelfout begaan. Djokovic kon bietjie asemskep.

Die derde stel het 93 minute geduur. Soms het dit gelyk asof hulle nie op ’n tennisbaan is nie, maar eerder aan naellope deelneem soos wat hulle van hoek tot kant agter balle aangehardloop het.

Die Franse president het bygedra tot die elektriese atmosfeer toe hy gebel het en gesê het die toeskouers kan maar bly, hy lig die 23:00 aandklokreël vir hulle. Djokovic het na afloop van die wedstryd na die gebeurtenis as ’n ‘spesiale oomblik’ verwys.

Net 48 uur later moes Djokovic in die eindstryd teen die jong Tsitsipas speel. ’n Interessante statistiek is dat die wedstryd ook vier ure en 11 minute geduur het.

Die wêreld se nommer een tennisspeler het intussen net twee weke tyd gehad om te rus, want Wimbledon begin binnekort. Interessant is dat Nadal hom van Wimbledon onttrek het. Federer hinke-pink van een wedstryd na die ander, so ek vermoed hy gaan nie die eindstryd haal nie. Ek dink ons kan maar die aarbeie en room nader trek vir nog ’n briljante eindstryd met Djokovic as die hoofkarakter.

LEES OOK: #Rubriek: Gepraat van … In die donkerte gehul

LEES OOK: Djokovic tests positive for Covid-19

   

Related Articles

Back to top button