InternationalSport

Plaaslike renjaer op die wenpad

Van Rooyen neem nou deel aan die Historic Pursuit Racing-kategorie met 'n 1983 Porsche 924.

Tihan van Rooyen, ‘n matrikulant van Sunward Park se DNS het al van kindsbeen af uit karre bestaan, en nou droom hy daarvan om ‘n beroepsrenjaer te word.

Op die ouderdom van 16 het dié leerling van Hoërskool Oosterlig sy resieslisensie behaal en in 2020 het hy by Historic Racing South Africa (HRSA) aangesluit.

Van Rooyen neem nou deel aan die Historic Pursuit Racing-kategorie met ‘n 1983 Porsche 924.

Pursuit Racing word beskou as ‘n goeie toegangspunt in die historiese motorwedrenne, aangesien dit jou nie net die basiese beginsels leer nie, maar ook konsekwentheid.

Sedertdien het hy nog nie ‘n dag teruggekyk nie. Hy blink nou uit in die wedrenne waaraan hy deelneem en beklee nou die negende plek (uit oor die 30 renjaers) op die klub se puntelys.

Dit volg nadat hy onlangs onderskeidelik ‘n tweede en derde plek behaal het in wedrenne by Zwartkops en Redstar.

“Ek was mal oor karre vandat ek omtrent ‘n jaar oud is. Ek het myself basies geleer hoe om ‘n kar met ratte te bestuur met die hulp van ‘n motor simulator.

“Dit was senutergend toe ek vir die eerste keer agter die stuurwiel geklim het, maar die vrees verdwyn vinnig sodra mens besef jy is in beheer van die motor. Ek is mal oor die adrenalien en ek ry so tussen 160 en 200 km/h.

“Die klub is ook genooi om vanaf 15 tot 18 Julie aan ‘n wedren in Mosambiek te gaan deelneem en ek is vreeslik opgewonde daaroor,” het hy verduidelik.

Van Rooyen spandeer nou soveel tyd as moontlik op die resiesbane.

“Ek oefen ook go-karting. Verder hou ek aan om gebruik te maak van my motor simulator. Ek is ook goed met IT en kon daarin slaag om die bane waar ek jaag daarop na te maak,” het hy vertel.

Hy het bygevoeg die koste van elke wedren beloop tussen so R10 000 en R15 000, inskrywingsgelde ingesluit.

Vir hom is motorresies ook meer as net ‘n stokperdjie.

“Ek sal graag in die toekoms ‘n beroepsrenjaer wil word en aan kompetisies soos die World Endurance-kampioenskappe wil meeding,” het van Rooyen bygevoeg.

Hy gaan binnekort vir sy bestuurslisensie en is vol vertroue dat hy gereed is vir Suid-Afrika se paaie.

Die aspirant-renjaer het sy dank uitgespreek teenoor sy pa, Renier, wat hom borg en almal wat hom ondersteun.

Renier is trots op sy seun se prestasie.

Also Read: Plaaslike matriekleerder in die wolke oor vlieënierslisensie

Also Read: Brilliant, close kart racing, multiple winners and a little drama in Benoni

   

Related Articles

Back to top button