NewsSchools

Laerskool Baanbreker se hoof groet

Van die uitstaande kenmerke wat sy personeel aan hom toedig is sy toegewydheid, harwerkendheid, ongelooflike geduld, deeglikheid, perfeksionisme en hulpvaardigheid

Thomas Wyatt (Tom) Hoffmann het einde Januarie sy kantoordeur vir die laaste keer agter hom toegetrek nadat hy vir 24 jaar hoof van Laerskool Baanbreker was.

Tom het sy kinderjare in Carletonville deurgebring en na skool by PUK (Noordwes-Universiteit in Pochefstroom) aangemeld. Hier verwerf hy sy BA, HOD en honneursgrade. As lid van die Alabama-geselskap leef hy sy studentejare voluit.

Sy weermagopleiding word te Khorixas, Namibië, verrig. Hy begin sy onderwysloopbaan by Laerskool Delville in 1981 en tree in 1982 met Estelle in die huwelik. Twee dogters, Lenta en Nadia, word uit die huwelik gebore.

In 1986 word hy aangestel as departementshoof opvoedkundige leiding by Laerskool Baanbreker en in 1993 as adjunkhoof.

In 1996 word hy gesekondeer na Laerskool JM Louw as hoof en in 1997 word hy aangestel as die hoof van Laerskool Baanbreker.

Volgens Sanet Meiring, skakelbeampte van die spogskool, is Tom se werksetiek navolgenswaardig vir elke personeellid.

“Meneer Hoffmann was meestal die laaste persoon wat laatmiddae die skool verlaat het. Dié vasbyter het nie daaraan geglo om werk te laat oorstaan na die volgende dag nie.

“Van die uitstaande kenmerke wat sy personeel aan hom toedig is sy toegewydheid, harwerkendheid, ongelooflike geduld, deeglikheid, perfeksionisme, hulpvaardigheid (veral met die tegnologie waarmee hy ‘n meester was), diplomasie, en diepe menslikheid.

“Hy het elke dokument met presisie en aandag aan detail voltooi. Geen taak was vir hom onbelangrik of te veel moeite nie. Hy was ‘n baie goeie leermeester vir menige personeellid en is keer op keer beskryf as ‘n medemenslike leier.

“Hy kon homself in ‘n personeellid se situasie plaas en dan met sy kenmerkende rustigheid en wysheid ‘n besluit neem,” het Meiring gesê.
Sy het bygevoeg dat die hoof ‘n goeie sin vir humor het en was altyd ‘n bok vir sports.

“Hy was ook nie bang om self moue op te rol en te help planne teken en dekor bou vir die skool se revue nie. Meneer Hoffmann het graag op sy kitaar gespeel waarop almal heerlik saamgesing het.

“Tydens ‘n kultuurfees het hy saam met die kinders gesing en opgetree. Hy sou met geduld luister na kinders se probleme en oplossings help soek.

“Hoe sê ‘n skoolgemeenskap dankie vir soveel jare se toewyding? Dit kan nie in woorde oorgedra word nie. Laerskool Baanbreker kan maar net ons skool se leuse eggo ‘Ons kan, ons wil, ons sal’. Ja, nooit sal meneer Hoffmann se diep spore by Laerskool Baanbreker uitgewis word nie,” het sy vertel.

Lees Ook: Baanbreker kondig nuwe leiers vir 2021 aan

Lees Ook: Laerskool Baanbreker-leerders woeker met die pen

   

Related Articles

Back to top button