EntertainmentLifestyle

Andrè Die Skreeusnaakse hipnotiseur is terug

Andrè is verheug om weer voor ‘n gehoor by Carnival City te kan optree.

Andrè die hipnotiseur het al die afgelope drie dekades gehore met sy skaterlagvertonings vermaak.

Aanhangers kan gereed maak vir ‘n splinternuwe vertoning, op Vrydag 4 en Saterdag 5 September by Carnival City se Applause elke aand om 7nm, wanneer sy nuwe produksie die verhoog tref. 

Daar is ook ‘n spesiale vertoning op Woensdag, 9 September om 6nm, wat opgeneem gaan word vir televisie.
Andrè is verheug om weer voor ‘n gehoor te kan optree.

“Na die inperking van vyf maande, kan ek nie wag om ‘n klomp vrywilligers onder hande te neem en te verander in sangers, dansers, diere en huishoudelike items nie.

“En dit natuurlik alles net vir jou en vir my vermaak,” lag Andrè.
Waar het dit alles begin vir André? “Ek het toe ek vyf jaar oud was my eerste televisieadvertensie gemaak. Ek het toe reeds geweet dat ek op die verhoog wou wees, maar ek het nooit geweet wat ek op die verhoog wou doen nie.

“Toe, in 1987, sien ek ‘n program deur die legendariese Max Collie. Ek was so mal daaroor dat ek onmiddellik geweet het dat dit was wat ek wou doen. Ek het hom genader oor opleiding, en ná sy dood in 1990 het ek dwarsdeur die land begin optree,” het André gesê.

Is hipnose nie gevaarlik nie? André antwoord: “’n Mens onder hipnose verloor nooit beheer oor wat hy doen nie, en hy onthou presies wat hy gedoen het. Mense doen snaakse dinge op die verhoog, want dis presies wat van hulle verwag word.

“Alles waarop die persoon reageer sal binne die raamwerk van die vrywilliger val. En ‘n mens se brein beskerm jou op só ‘n manier dat jy nie jou diepste geheime sal uitlap nie.

“’n Vrywilliger sal hom byvoorbeeld nie kaal uittrek tensy hy iemand is wat in elk geval by elke partytjie so iets doen nie.”

Wat is vir André belangrik? “Ek is gek oor my werk. Daar is niks wonderliker as ‘n gehoor wat hulself geniet nie. Maar van die verhoog af is ek maar stillerig.

“Ek bring ure in grotte deur, want dit gee my die geleentheid om dinge te ontdek waar g’n ander mens nog ooit was nie, en om dié wonderlike natuurverskynsel te geniet.”

Het daar al ooit met een van jou optredes iets verkeerd geloop? “Hipnose is baie veilig, maar dis die vrywilligers wat op hulle eie stasie is.

“Gedurende een van my optredes het ek vir een van die vrywilligers gesê dat hy vir my kwaad is, en dat hy uiteindelik so kwaad sou wees dat hy my sou slaan. Gewoonlik sê ek dan ‘slaap’ en die persoon lê plat op die vloer.

“Maar daardie aand het die gehoor so gelag dat die vrywilliger my nie gehoor het nie, en toe is dit ék wat op die vloer lê, met kneusplekke en ‘n geswelde lip! Maar nou ja, dis hoe die vermaaklikheidswêreld werk!”

LEES OOK: Vrywilligers vir hipnose aanlyn TV-vertoning gesoek

LEES OOK: #Kelderkonsert Sondag: Helenè Bester sing Nana Mouskouri aanlyn

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button