Local newsNews

Matrikulant van Oosterlig verloor stryd teen lupus

Sy was ‘n lieflike kind en haar bynaam, Bubbles, het mooi by haar borrelende persoonlikheid gepas, het 'n onderwyseres, wie anoniem wou bly, aan die Advertiser vertel.

Hoërskool Oosterlig is in rou gedompel ná een van hul matrikulante, Cailin Esterhuizen, op 16 April haar stryd teen lupus verloor het.

“Dit is met hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van Cailin, wat in Graad 12 was.

“Ons gaan haar borrelende persoonlikheid en passievolle teenwoordigheid mis.

“Ons gebede gaan uit na haar familie en vriende in hierdie moeilike tyd,” het die skool se hoof, Francios Nel, in ‘n verklaring gesê.

Volgens ‘n personeellid van die skool was Cailin ongeveer ‘n week voor haar dood in die intensiewe waakeenheid in ‘n hospitaal opgeneem en het haar niere weens die outo-imuunsiekte ingegee.

“Ons was bekommerd oor haar toe sy einde Februarie siek geword het, maar ons het nie verwag dat dit fataal sou wees nie.

“Oosterlig is diep geskok en getraumatiseerd oor haar afsterwe.

“Ons almal is platgeslaan.”

Sy was ‘n lieflike kind en haar bynaam, Bubbles, het mooi by haar borrelende persoonlikheid gepas, het die onderwyseres, wie anoniem wou bly, aan die Advertiser vertel.

Cailin was pligsgetrou en aktief betrokke by die skool.

Sy het onder andere netbal by Oosterlig gespeel en was gewild onder die leerlinge en onderwysers.

Die personeellid het beklemtoon dat Cailin se familie gebroke is oor haar afsterwe.

“Hulle is stukkend.

“Haar ouma, by wie sy grootgeword het en aan wie sy baie geheg was, vat dit ook geweldig swaar,” het sy bygevoeg.

Weens die staat van inperking kon haar ouma en ouers haar nie in die hospitaal besoek nie, maar was in kontak met die dokters van die intensiewe eenheid.

Cailin se ma was ook in Nieu-Seeland tydens haar dogter se dood.

Daar sal eers na die inperking ‘n gedenkdiens vir haar gehou kan word.

Sy word oorleef deur haar ouma, ma, pa en jonger suster.

Hierdie gebed word deur die matriekmeisies van 2020 opgedra aan Cailin se geliefdes, familie en vriende.

Pappa Vader – Here God! Vanaand is daar stukkend, vanaand is daar seer, daar is soveel onbeantwoorde vrae waarvan ons nie nou die antwoorde ken nie! Here God, U sê in U woord dat ons gedeeltelik weet, maar dat ons eendag ten volle sal weet! Laat dit so wees! Here U belowe ook dat U naby die gebrokenes van harte is, daarom kom ons en ons vra dat U salwing nou sal sak en U Heilige Gees daadwerklik sal toetree tot hierdie stryd, omvou elkeen met U liefde en troos elke gebroke hart. Ons vra dat U elke traan van Cailin se familie en vriende sal sien en ken en dat U – soos U beloof – elke traan sal opvang en dit vir ons sal terug kom gee in hemelse pêrels. Here ons sien nie die mense se binneste nie , maar U doen! Hou vas Here! Vertroos Here! Omvou hulle met U liefde en mag U kom herstel! Mag U Vaderskoot vir hulle verligting en genesing bring! Dankie Here dat U reeds in beheer is!

Rus sag Cailin.

Wat is lupus?

Die term lupus verwys gewoonlik na ‘n erge vorm van die siekte wat bekend staan as sistemiese lupus eritematose (SLE). Dit is ‘n outo-immuunsiekte waartydens die liggaam se immunstelsel gesonde weefsel in baie dele van die liggaam aanval. Dit kan die vel, gewrigte, niere hart en longe en senuweestelsel aantas. Daar is verskeie faktore wat tot die siekte kan lei, onder andere omgewingsfaktore en gene.

Simptome verskil van pasiënt tot pasiënt. Simptome kan moegheid, laergraadse koors, kwaai gewrigs-en spierpyn, veluitslag op die lyf , sensitiwiteit vir die son, swak sirkulasie in hande en voete en haarverlies insluit.

Die bekende sangeres en aktrise Selena Gomez is ook met die siekte gediagnoseer.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button