Local newsNews

LALT se Louw ondergaan ‘n radikale transformasie

Die eienaar van LALT Theatre House is nou reeds ’n jaar lank op 'n dieet- en oefenprogram

Na ’n radikale transformasie spog plaaslike TV-aanbieder Louw Breytenbach met ’n gespierde lyf wat mens sal laat glo dat hy ’n rol in Baywatch losgeslaan het.

Die eienaar van LALT Theatre House is nou reeds ’n jaar lank op die dieet- en oefenprogram van Eminence Fit deur gesondheidsspesialis Zane du Plessis en het hy ’n volle 16 persent liggaamsvet afgeskud.

Die Advertiser het by hom gaan aanklop om meer uit te vind oor sy reis na ’n gesonder Louw.

V: Jy het die besluit geneem om ’n gesonder leefstyl te handhaaf. Wat het daartoe gelei?

A: Dit was ’n sameloop van omstandighede. Die eerste keer wat ek besluit het om my kontrak by die gimnasium te hernu, was net nadat Drama Mammas verfilm is. Ek het gesien hoe baie gewig ek deur die loop van die produksie opgetel het – die kamera het dalk ’n hand hierin, maar ek het vir seker my eie 10kg bygesit.

V: Is daar ’n spesiale oefen- en eetprogram wat jy volg?

A: Ek oefen vyf maal per week gewigte en doen ook kardio-vaskulêre oefeninge, soos draf of fietsry. My dieet is baie streng aangesien ek ook my aandag daarop toespits om later vanjaar my nuutste besigheidsplatvorm, Theatrical Fitness, te loods. ’n Opwindende nuwe oefenstyl in groepe waar teater tegnieke saam met strek en gewig-oefeninge gebruik word sodat jy jou liggaam en lewe hiermee kan transformeer.

V: Wat was vir jou die moeilikste gedeelte van jou reis na ’n gesonder Louw?

A: So ses maande na my oorspronklike reis van transformasie was ek in ’n motorongeluk met noodlottige gevolge wat baie hartseer en trauma veroorsaak het. Met hofsake wat voortdurend by my gespook het en die ongelooflike hartseer van lewensverlies was dit beslis die moeilikste tyd van my lewe. Om dan geestelik gesond te wees, was geen maklike taak nie. Jou emosies sinchroniseer nie met jou brein en normale optrede nie. My ongelooflike afrigter, Zane, my ouers en vriende het my egter gemotiveer om nie moed op te gee nie en die nuwe Louw weet nou dat ’n gesonde liggaam nie kan bestaan sonder ’n goeie balans van emosies en geluk nie.

LEES OOK:

LALT studente presteer by Gauteng Public Speaking

V: Watter lekkerny sukkel jy nog om prys te gee?

A: Sjoe, die lekkerste lekker is darem maar beskuit. Ek kan steeds enige dag met beskuit of ’n vars brood omgekoop word.

V: Hoe kry jy dit reg om met ’n besige skedule steeds jou weg oop te sien na die gimnasium toe?

A: Ek het altyd die feit dat ek twee besighede bestuur en ook in die televisiebedryf werk, gebruik as verskoning totdat iemand my gevra het wat presies ek doen tussen 5vm en 6vm. As jy nie een uur uit 24 uur vir jouself kan neem nie, is jy nie werklik besig om jou tyd optimaal te bestuur nie. As jy eers besef waatter groot impak die oefening op jou geestestoetstand en emosies het, is die opoffering die prys werd.

V: Hoe hou jy jouself gemotiveerd?

A: Ek sorg dat my doelwitte altyd opgedateer bly, ek eet gesonde kos wat lekker is en ek volg rolmodelle wat gesondheid sowel as suksesvolle loopbane hoog op prys stel. As ander dit kan doen, kan ek ook.

V: Kan jy nou getuig dat daar waarheid steek in die gesegde ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees?

A: Absoluut – ek glo en weet nou dat die een nie optimaal sonder die ander een kan funksioneer nie.

V: Watter oefening is ’n moet, maar dit lê soos ’n berg voor jou?

A: Vir my is die heel ergste om te draf of fiets te ry, maar ek besef dat dit juis hierdie oefeninge is wat die vetjies laat wegsmelt.

V: Watter tipe persoon moet jy nie in ’n gimnasium wees nie?

A: ’n Mens moet nooit die persoon wees wat nie hulle gewigte wegpak nie. Mens moet weet dat elke persoon wat daar instap reeds hul eie journey geneem het om genoeg selfvertroue op te bou om net tot by daardie deur te kom. Dus moet niemand ooit voel dat hulle aangegluur word of verneder word nie. Ons moet almal daar wees om mekaar te motiveer en te help, ongeag van hulle voorkoms.

V: Hoe hou jy jouself fiks tydens die nasionale staat van inperking?

A: Ek het my sitkamer in ’n tuis-gimnasium omskep, waar ek praktiese oefeninge uitvoer met oefen-rekke, klein gewigte en jogaballe. My Dalmatian hou my ook natuurlik fiks en deur om die huis te draf, is sekerlik beter en veiliger as om op die pad te draf.

LEES OOK:

Plaaslike TV-aanbieder se lewe nooit dieselfde na gru ongeluk wat talle lewens eis

Related Articles

Back to top button