Local newsNews

Onderwyseres van EG Jansen verloor stryd

Huldeblyke stroom in na Afrikaanse onderwyseres van Hoërskool Dr EG Jansen Lynette Nel (55) op 27 Maart oorlede is.

Na haar gru-motorongeluk vroegoggend op 3 Oktober 2019 en ’n maandelange herstelpad het sy haar stryd verloor.

“Dit is met diep hartseer en weemoed dat EG Jansen een van sy groot geeste finaal moet groet,” het Marlene Flemming, haar depatementshoof, in ’n verklaring geskryf.

EG Jansen se personeel en leerders dink met deernis terug aan die betekenisvolle en waardevolle pad wat hulle saam met haar gestap het.

“Sy het met haar kleurryke en koesterende persoonlikheid mense aangeraak en hegte vriendskappe gesmee.

“Sy was vir ongeveer 16 jaar ’n Afrikaanse onderwyseres by die skool en het jare lank matriekvraestelle nagesien.

“In hierdie tyd het sy onuitwisbare spore getrap in die Afrikaansdepartement, in vele van die skool se projekte en in die harte van haar leerders. Haar medelye met ander het haar as ’n besondere omgeemens onderskei.”

Die departementshoof het namens die skool hul innige medelye aan haar familie en vriende getoon deur ’n huldeblyk aan haar op te dra.

Voorts skyf Flemming: “EG Jansen groet Lynette Nel in die woorde (effens gewysig) van Koos du Plessis:

Jy hoor ons nie meer nie;

ons se maar tot siens.

Ons sal jou nie steur nie;

ons loop ongesiens,

want jy is in oorde

waar drome nog blom.

Ons groet sonder woorde,

want hartseer is stom.”

Volgens haar man, André, was Lynette ’n sagmoedige mens wat agteroor sal buig om ander mense te help.

“My vrou het altyd deernis vir haar medemens gehad en het mense gehelp waar sy kan. Sy het tot ’n voedingskema by die skool begin waar sy broodjies aan minderbevoorregte leerders verskaf het. Sy was ’n harde werker en was goed in wat sy gedoen het. Die kinders was lief vir haar.

“Sy was ook vyf keer benoem as die beste onderwyser in die Ekurhuleni-Suid-distrik en sy het ’n ongelooflike vakkennis gehad. Ons harte is stukkend,” het hy gesê.

“Sy laat ’n groote leemte in ons gesin,” het hy aan die Advertiser vertel.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor van die personeellede van EG Jansen wat die familie tydens hierdie moeilike tyd ondersteun het.

Daar sal na die 21-dae van inperking ’n gedenkdiens gehou word vir enigeen wat dit sou wou bywoon.

Lynette laat haar man, dogter Lené, seun Dewald, ma en susters na.

Mikayla Jade Labuschagne skryf oor haar geliefde onderwyseres:

“Mense wat sê engele bestaan nie het juffrou nooit geken nie. Juffrou was ons almal se skoolmamma. ’n Persoonlike dagboek waar almal op hulle moeilikste dae kon kom sit en gesels. Juffrou het beslis ’n verskil in ons almal se lewens gemaak, diep spore in ons lewens paadjies getrap.

“Juffrou het altyd inspirerende woorde gehad en soveel liefde vir juffrou se medemense gehad. Dankie vir die massiewe impak wat juffrou in my, en ek glo elke leerder wat die voorreg gehad het om in juffrou se klas te kon gesit het, gemaak het. Juffrou se engelsvlerke was gereed om te vlieg, maar ons harte beslis nie.

“Pappa Jesus het een van Sy mooiste rose kom pluk en dit los ons tuine leeg, maar Hy het juffrou meer nodig gehad. Ons gaan juffrou baie mis. Rus sag mooiste mens.”

Related Articles

Back to top button