Local newsNews

Naka Drotske se lewe van genade

"Vandag kan ek my storie vertel oor hoe my organe geen skade opgetel het nie, hoe elke druppel bloed in my liggaam ’n skenking was en ek kan my arm gebruik. Dit is alles net ’n wonderwerk." - Naka

Drie keer is sy lewe wonderbaarlik gespaar.

So sê Naka Drotske, voormalige Springbok-haker, toe hy onlangs die Sakevroue by Summer Place toegespreek het.

Die eerste keer was op laerskool in 1983 toe hy sy nek erg beseer het. Die tweede keer is toe hy geskiet was tydens ’n roofaanval. ’n Derde keer toe hy om sy lewe geveg het in die hopsitaal nadat ’n virus al sy organe deurdrenk het.

Dit is weens genade en ’n geloof wat verdiep het dat Naka sy verhaal vertel en hoe ’n mens positief moet bly al gaan dinge rof.

Rakende die eerste voorval vertel Naka die fratsongeluk het gebeur toe hy en ’n vriend gaan visvang het. Dit sou ook die einde van enige hoop vir rugby speel gewees het.

“My pa het my na soveel spesialiste gevat, maar almal het saamgestem dat my rugbydae verby was nog voordat dit werklik begin het,” vertel Naka.

“Twee jaar later toe sê ek vir my pa ek gaan nou rugby speel en dat ek nie omgee wat die gevolge is nie. Ek is weer na ’n spesialis wie toe gesê het ’n wonderwerk het plaasgevind – my nek het versterk en ek kon weer speel.”

Weens die wonderwerk het Naka 26 toetse vir die Springbokke gespeel en was hy deel van die 1995 Rugbywêreldbeker-wenspan asook die span wat derde geëindig het in die Rugbywêreldbeker 1999.

Hy was die senior afrigter van die Toyota Cheetahs in Superrugby en het sy uittrede as afrigter op 8 Mei, 2015, aangekondig.

Die tweede wonderwerk het op 29 November plaasgevind toe vier gewapende rowers op ’n kleinhoewe in Kemeeldrift-Oos toegeslaan het. Tydens die voorval het Naka saam met sy broer, Thinus, en oud-Springbok Os du Randt gekuier.

“Ons het net klaar gebraai en die vleis op die tafel gesit. Die volgende oomblik skree iemand ‘nee, nee, nee’. Toe ek omdraai staan die vier mans daar met wapens. Hulle het ook gas in die kamer gespuit.

“Daar was beursies, selfone en skootrekenare op die tafel, maar ek kon sien hulle het nie belangestel nie. My broer se twee seuns en sy vriendin was ook in die huis. Hulle wou ons almal in die huis indwing.”

Naka vertel hoe hy al vier mans terselfde tyd gegryp het en so met hulle die trappe af is.

“Ek het gehoop as ons op die vloer land kan ek dalk ’n vuurwapen gryp.”

Skote het toe geklap en Naka is in die maag en in die arm gekiet.

“Gelukkig het iemand in die huis die paniekknoppie gedruk en die rowers het gevlug. Ek het nie eers besef ek is gewond nie.

“As jy met die polisie praat sal hulle jou vertel ’n maagwond is gewoonlik noodlottig. Ons jaag toe na die hospitaal alhoewel ons nie eers geweet het of die rowers nog in die tuin is nie.”

Op pad na die Netcare Montana Hospitaal, soos die ongeluk dit wil hê, is die padborde af en Os jaag in die middelmannetjie vas. Altwee die voertuig se voorste bande het gebars.

“Gelukkig het ’n kar gestop en my hospitaal toe gejaag. Os moes toe in ’n ander kar klim.

“By die hospitaal was daar ’n sjirurg wat spesialiseer in buikwonde, wat ook ’n wonderwerk was. Die een koel is deur my armspier tot in my bors, maar het darem nie my hart getref nie. Die ander een is deur my maag en net ’n stukkie van my dunderm moes verwyder word.”

Naka is onstlaan, maar slegs vier dae later by die huis weer vinnig verswak. Hy is na Mediclinic Bloemfontein gejaag waar hy hewige inwendige bloeding opgedoen het. Hy het ook ’n virus opgedoen – die derde voorval.

Hy was 17 dae in die waakeenheid en eers later gehoor sy familie was al geroep om vir hom toetsiens te sê.

“Dit was maar rof. Daar was kere wat ek wou opgee maar my vrou, Marzanne, het my aangemoedig om te bly veg. Die keerpunt was die dag na Kersfees toe ek vir die Here gesê het ek sal getuig van Sy goedheid as Hy my lewe spaar. Ek is baie aan Hom verskuldig.”

Naka sê dit is nie altyd maklik om jou ingesteldheid reg te kry nie, maar hy het geleer om die truama te verwerk en vorentoe te kyk.

“Ek het ook ’n nuwe positiewe perspektief op die lewe.

FOLLOW US:

Instagram

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City TimesSprings AdvertiserBrakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail

Related Articles

Back to top button