NewsSchools

Kyk video: Nuwe kuikens reg vir die skooljaar by EG Jansen Hoërskool

Die Jansieraad is vol hoop en inspirasie vir 2019.

 

Op die eerste skooldag van 2019 is die Graad Agt kuikens van Hoërskool Dr EG Jansen reeds volstoom aan die gang.

Om 12nm het busse by die skool ingery en die kuikens, Graad Agt onderwysers en Jansieraad het veilig terug van die Graad Agt kamp afgekom.

Soos lank reeds tevore het die Jansieraad reeds laas week na Kwalata in Hammanskraal vertrek om voor te berei vir die Graad Agt-klas vir wie hulle op 7 Januarie ingewag het.

“Ons vat dié leerders op kamp sodat hulle mekaar en die Jansieraad beter kan leer ken.

“Ons leer ook vir hulle die skoolreëls, skoollied en Jansen tradisies, net soos wat ons matrieks dit vir ons geleer het, sodat hulle so maklik as moontlik by die res van die skool kan inskakel,” het hoofseun Franco Enslin gesê.

Op die kamp word die leerders in hulle klasse vir die jaar ingedeel en ontmoet hulle ook die Graad Agt personeel.

Hulle swem, sing en neem deel aan spanbou aktiwiteite.

Vir die volgende twee weke sal daar Graad Agt orientering wees, waar die Graad Agt-klas nog van die skool sal leer, groeintjiekonsert sal oefen en die res van die skool beter sal leer ken.

Dit klink na hope pret, met temas, Jansen rympies en kompetisies.

Daar is ook ’n Jansie Graad Agt-braai, waar die leerders en hul ouers, asook die personeel en Jansieraad lekker saam braai en die geleentheid kry om mekaar beter te leer ken.

Al is die leerlders uitgeput na die kamp, lyk hulle baie opgewonde om deel te wees van Hoërskool Dr EG Jansen.

“Dit was die beste kamp waar ek nog ooit was,” se Tenike Blunden.

Tenike kan nie wag om ‘n ware Jansie te wees nie.

Die Jansieraad het mooi na die Graad Agt leerders gekyk en vir hulle al die Jansie tradisies geleer. Hier is Franco Enslin (hoofseun), Dale Slabbert, Tenike Blunden, Theart Reynecke en Bernice Swartz (hoofdogter).

Die leerders het ook ‘n orienteringshandboek wat die hoofleiers saamgestel het, ontvang. Hierin is die skoolreëls, skoollied, name van die Jansieraad en vele meer oor die skool en die skool se tradisies.

Die handboek is een van die vele tradisies wat elke jaar gebruik word.

“Ons het ‘n baie sterk Jansieraad wat saam werk en almal baie positief is oor die jaar wat voorlê,” se Bernice Swartz, hoofdogter.

“Ons het seker gemaak ons doen alles met ‘n rede, ons het gefokus op positiewe eienskappe en ‘n Jansierede agter alles gesit.

Die Graad Agt-klas was moeg na die kamp, maar reg vir die nuwe jaar.

“Wanneer jy jou slaapsak meer as een keer moes oprol, het ons jou herinner dat ‘n Jansie nooit ophou nie.”

“Wanneer hulle onder mekaar baklei het, het ons seker gemaak hulle onthou dat Jansies vir mekaar omgee,” het Enslin gesê.

“Die Graad Agt-klas het van die begin af baie goeie spanwerk gedoen.

“Met die terugkeer van die kamp is die leerders moeg, maar gelukkig. Die kamp is ‘n ou Jansie tradisie wat die nuwe kuikens op ‘n positiewe manier voorberei vir die hoërskoolavontuur waar hulle sal transformeer in arende.”

Related Articles

Back to top button