Local newsNews

Boksburg inwoner se heimwee na vergange se dae

Gerrie Brits (60) woon al bykans 40 jaar in Boksburg en vertel dat hy nie die Boksburg van vandag met die Boksburg van toeka kan vergelyk nie.

“Dit was ’n lekker dorp gewees. Ons kon nog sokker en rugby in die straat speel. Nou sal motoriste jou doodry.

”So het die tye verander.”

Brits is in Germiston gebore, maar het in Boksburg grootgeword en in Derde- en Tiendestraat gewoon.

Vandag woon Brits saam sy ma, Magrieta, in die huis wat die Britse in 1969 laat bou het. Dit was die 10de huis wat ooit in Jansen Park gebou is.

Hy vertel dat sy kinderdae hard, maar lekker was.

“Ons het altyd gaan fliek by die bioskoop langs die Boksburg Noord Hotel en in Boksburg se munisipale swembad gaan swem,” onthou Brits.

Brits het skoolgegaan by Laerskool Hennie Basson, wat vandag as Laerskool Goudrand bekend staan, en sy hoërskool loopbaan aan Hoërskool Dr EG Jansen voltooi.

Brits koester steeds herinneringe van die vervloë dae toe hy en sy vriende gereeld snoeker in Casonweg en putt-putt by die Boksburg Meer gespeel het.

Toenmaals het die Britse nog hulle groente aangekoop by ’n Portugees wat vars groente op ’n plot in Paul Smitweg gekweek het en klere by die Chinese winkels in Veertiendelaan gekoop.

Vol heimwee noem Brits ook die ou Voortrekker Slaghuis in Trichardtsweg, die rooi tiekie-boks op die hoek van Sesdestraat en Trichardtsweg, die vis en tjips winkel langs die Boksburg Noord Hotel, die koekie- en naaldwerkwinkels verder af in die straat en ook die Rosenburg Barber, waar hy en sy pa gegaan het om hulle hare te laat sny.

“Ek moes altyd op een van daardie ou barberstoele sit, omdat ek te kort was,” lag Brits.

Related Articles

Back to top button