Local newsNews

Die harde lewe van ’n hawelose vrou

Om ’n hawelose vrou op straat te wees, is nie vir sissies nie.

Gertruida Koekemoer woon al die afgelope drie jaar op straat en, volgens haar, is dit “sleg om op straat te wees, want ek is ’n vrou”.

“’n Vroumens moet elke dag skoon wees en nie vuil nie; dit maak my baie seer,” voeg sy by.

Haar ouers, Jan en Meisie, is in 2004 oorlede.

Ná hulle dood het sy vir ’n tydperk – tot 2013 – by ’n vriend gebly, maar het glo die hasepad gekies, omdat hy by dwelms betrokke was.

“Ek wil glad nie betrokke raak by iemand wat dwelms gebruik en geweldadig raak nie,” het Gertruida gesê.

Dié wou blykbaar hê dat sy vir hom by die verkeerslig staan en geld insamel om dwelms te koop.

“Maar ek wou nie en ek het nie. Ek wil nie my lewe in gevaar stel en dan maak hy van my ’n slaaf nie,” het sy gesê.

Sy het nooit weer van hierdie vriend gehoor nie.

Gertruida vertel dat sy glad nie vriende op straat maak nie.

“As jy met die verkeerde mense vriende maak bring hulle jou in die moeilikheid en dan gaan jy tronk toe,” het sy gesê.

“Ek bly ver weg van die tronk af.”

Sy het na bewering al ’n paar noue ontkomings op straat oorleef.

“’n Vuurwapen en ‘n mes is al op my gerig. Ek het baie groot geskrik, want die boewe het uit die bloute verskyn,” het sy gesê.

“Hulle wou geld en selfone hê, maar ek dra nie daai goed aan my nie.”

Gertruida het wel ’n kêrel, Webster van Loggerenberg, wat haar “baie mooi oppas”.

“As mense moeilikheid met my soek staan hy agter my,” het sy gesê.

Op die oomblik bly hulle nie in ’n tent nie. Hulle slaap op koerantpapier op die gras en het net een kombers waarmee hulle hulself toegooi.

Sy staan by die Rondebult en Ravenswoodweg kruising en bedel by motoriste. Hulle koop met die geld wat sy ingesamel het, iets om te eet.

Sy het glo twee kinders saam met Webster, maar beweer dat die welsyn hulle weggeneem het.

Hulle gaan kuier blykbaar elke Saterdag vir hul seun en dogter.

Gertruida wil graag uit haar huidige omstandighede ontsnap en ’n beter lewe lei.

Hoewel sy haar hele lewe lank in Boksburg woon, ken sy geen familielede nie.

Sy het wel een ouer broer, Frikkie, maar sy weet nie wat van hom geword het nie.

Gertruida pleit om enige hulp van familielede wat haar ken, of enige iemand anders wat haar wil help.

Sy kan in die veld by die Rondebult- en Ravenswoodweg kruising gevind word.

 

Related Articles

Back to top button