Editor's choiceLocal newsNews

Ondersteun Solidariteit Helpende Hand om boere in nood te help

Solidariteit Helpende Hand het aangekondig dat ’n bedrag van R625 000 beskikbaar gemaak is vir droogtehulp onder boere.

Hierdie bedrag bestaan uit ’n inisiële R100 000 in die vorm van koopbewyse vir voedselaankope en ’n bedrag van R525 000 wat in die Rampgebied Studiefonds beskikbaar gestel is.

Dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het sy organisasie se hulp aan die droogte-geteisterde boere bevestig.

“Helpende Hand is diep besorg oor die humanitêre krisis wat onder ons boere op die platteland ontstaan het.

“Ons bied graag ondersteuning deur die TLU SA se takke aan in die vorm van R100 000 se koopbewys wat vir voedselaankope aangewend gaan word na ’n behoefte bepaling.

“Die Helpende Hand Studiefonds-Sentrum het ook reeds R221 000 in studielenings  aan boere se kinders uitbetaal vir studiehulp vir die 2016-akademiese jaar.

“Ons verwerk nou aansoeke om boere se families verder te ondersteun met die oorblywende fondse. “

Brink het bevestig dat toe Helpende Hand om hulp gevra het vir die stakings in Rustenburg, was dit die boere wat met ywer daarop gereageer het.

“Boere is ’n steunpilaar in Suid-Afrika, hulle maak ’n integrale deel uit van ons land se ekonomie en speel die belangrikste rol vir voedselsekerheid.

“Na die aard van hulle natuur is hulle van die eerste groepe mense wat inspring en help wanneer iemand hulp nodig het.

“Solidariteit Helpende hand stap al ‘n lang pad saam met die boere in Suid-Afrika. Tydens groot humanitêre uitdagings soos die swaarkry wat in 2014 deur die AMCU-stakings in Rustenburg veroorsaak is, het die boere 150 ton kos self aangery na mense in nood, óf dit deur die Helpende Hand-kanale laat versprei.”

Helpende Hand het die Solidariteit Beweging se inisiatiewe om die droogte aan te spreek geprys.

“Alhoewel hierdie hulp natuurlik ’n druppel in die emmer is, glo ons dat hulp verligting sal bring, wanneer alle organisasies binne hulle fokus uitreik na die boere” het Brink gesê.

Helpende Hand het ander instansies aangemoedig om bydraes te maak aangesien die krisis drastiese gevolge vir die land se voedsel voorraad inhou en later die sakke van verbruikers ook gaan raak.

“Help ons land se boere in hulle tyd van nood.”

Vir die wat wil help SMS “boer” na 38969 en skenk R10 vir die fonds of maak ’n direkte inbetaling in Helpende Hand se rekening (Solidariteit Helpende Hand, FNB, rekeningnommer 62 331 445 503, takkode 250 655 Centurion, verwysing Boer).

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button