NewsSchool sportSchoolsSport

Jansen sewes eindig vierde in toernooi

Hoërskool Dr EG Jansen se o-17 sewes rugbyspan het vanjaar tydens die Noordvaal Sewes-toernooi vriend en vyand verras deur algeheel vierde in die toernooi te eindig.

Van die begin af was dit duidelik dat Dr EG Jansen ’n baie moeilike paadjie na die bekerfinaal sou stap.

In die eerste wedstryd het dié Valke wenners Hoërskool Pietersburg, die Limpopo Blou Bul wenners, met 31-29 in ’n klipharde stryd geklop.

In die tweede wedstryd het die Jansies ongelukkig 21-7 teen Helpmekaar Kollege vasgeval.

Jansies se derde kragmeting was teen Hoërskool Waterkloof en die wenner van die wedstryd sou saam met Helpmekaar Kollege deurdring na die kwartfinaal van die beker.

Dr EG Jansen het in hul beste vertoning van die seisoen die Klofies met 38-7 gewen.

Aangesien Hoërskool Dr EG Jansen algeheel tweede in hul groep geëindig het, het daar ’n rateltaai stryd teen die verdedigende kampioene, HTS Middelburg, in die kwartfinaal gewag.

EG Jansen het met goeie aanvallende spel en rotsvaste verdediging HTS Middelburg met 24-19 geklop om sodoende teen Hoërskool Monument te staan te kom in die halffinaal.

In die halffinaal het Dr EG Jansen met 27-10 teen ’n begeesterde Hoërskool Monument span vasgeval.

Monnas het ook later die toernooi gewen deur Hoërskool Garsfontein met 36-5 in die finaal te klop.

Volgens Hoërskool Dr EG Jansen se direkteur van sewes rugby en bemarking, Kwagga Loubser, is die skool baie trots op die vierde plek wat die span tydens die toernooi behaal het.

“Daar is nie een swak span nie en al 16 spanne was baie kompeterend tydens die gesogte toernooi gewees,” het Loubser verduidelik.

Related Articles

Back to top button