Local newsNews

VF Plus verleen hulp aan New Beginnings

Die wurggreep van armoede is besig om skrikwekkend toe te neem en privaat instansies wat hulpbehoewendes bystaan, sukkel om self kop bo water te hou.

Só meen Marga Kruger-Alberts, media skakelpersoon vir Dr Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus.

Kruger-Alberts het onlangs ’n helpende hand uitgereik na New Beginnings in Boksburg, wat sonder enige hulp van die staat daagliks 1800 behoeftiges kos en slaapplek gee. Sy het nie net met klere en speelgoed by die skuiling opgedaag nie, maar ook belowe om te help waar sy kan om die lewe van die inwoners ’n bietjie makliker te maak.

“Werkloosheid het in die eerste kwartaal tot 26,4 persent gestyg wat beteken dat sowat 5,5 miljoen mense sonder werk is. Dit is dus nie verbasend dat tussen 20 en 30 mense daagliks by die skuiling se hek vir hulp aanklop nie,” sê Kruger-Alberts.

“Dit is net jammer dat die regering nie meer doen om werkskepping te stimuleer en ekonomiese groei aan te help nie. Intussen verarm Suid-Afrikaners en word hulle gestroop van hul menswaardigheid.”

Bernise Meyers, die bemarkingsbestuurder van New Beginnings, beklemtoon dat niemand by die skuiling se deur weggewys word nie.

“Ons maak ’n plan. Tans is ons baie vol en daar slaap selfs gesinne binne-in die kapel. Waar ons in die verlede baie enkellopendes ontvang het, klop baie huisgesinne deesdae om hulp by ons aan.”

New Beginings is geleë op die terrein van die ou gevangenis. Op elke stukkie oop grond staan ’n houtstruktuur waarin persone woon. Die manskwartiere is tot oorlopens toe vol en daar moet jy versigtig na jou bed klim, want vier beddens word bo-op mekaar gestapel om vloerspasie te bespaar.

Volgens Kruger-Alberts het elke skuiling ook sy kwota kinders. Daagliks word 144 kinders, wat wissel van baba’s tot hoërskoolkinders, by New Beginnings versorg.

“Etenstyd is ook ’n uitdaging. Die eetsaal kan net ’n beperkte aantal tafels en stoele huisves dus is daar nie kans vir kuier om die etenstafel nie – jy moet eet en klaarkry want iemand anders het jou stoel nodig.”

Meyers het gesê die skuiling is afhanklik van skenkings uit die gemeenskap en van maatskappye om die behoeftiges te voed. “Wanneer ons meer ontvang as wat ons kan gebruik, word die kos weer na ander organisasies versprei,” het Meyers gesê.

New Beginnings samel fondse in deur die verskeie projekte wat hul aanbied. “Om soveel mense te voed en te klee, is geen speletjie nie. Dit kos meer as ’n miljoen rand per maand. Die elektrisiteit en water alleen is astronomies en daarom moes ons maatskappye stig om te help geld genereer.

“In ons kantoorblok bied ons lesings aan. Ons het ’n winkel waar skoonmaakmiddels verkoop word, ’n werkagentskap en ons doen ook opleiding vir maatskappye. Nog ’n projek om fondse te bekom is ’n gholfdag wat op 13 November plaasvind.”

Persone wat graag wil help kan Kruger-Alberts skakel by 076 520 3033 of Bernise Meyers by 072 807 2149.

Ackerman’s adds some cheer to New Beginnings

Emperors Palace donates to New Beginnings

New Beginnings‘ lease debacle rolls on

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button