Local newsNews

Laat die liefde blom, ten spyte van persoonlikheidsverskille

'n Mens se persoonlikheid sal nooit verander nie, dus, in verhoudings, moet 'n mens probeer om die nodige aanpassings te maak.

So vertel ds Braam Klopper, wie onlangs met die Sarie dames gesels het oor hoe om die liefde in ‘n verhouding te versterk, ten spyte van persoonlikheidsverskille.

“Die liefde is ’n wonderlike ding; dis nie altyd maklik nie en die paadjie is nie altyd gelyk nie,” het Klopper tydens die funksie, wat by Summer Place plaasgevind het, gesê.

“Egte liefde in ’n verhouding beteken dat ‘n mens vir mekaar begrip sal hê ten spyte van persoonlikheidsverskille.”

Hy het drie aspekte van ’n mens se persoonlikheid, wat ‘n impak op verhoudings maak, bespreek, naamlik introversie en ekstroversie; hoe, en op grond van wat, jy besluite neem; en watter tip leefstyl jy handhaaf.

Rakend introversie en ekstroversie, het Klopper gesê daar word aanvaar dat ekstroverte geen probleem het om voor mense te praat nie, en dat introverte stil en skaam persone is.

Om verskillende persoonlikheidtipes te verstaan help om ‘n sukses van ‘n verhouding te maak.

Klopper vergelyk mense met batterye.

“Daar is sekere dinge wat ons batterye laai, sowel as sekere dinge wat ons batterye laat afloop,” het hy verduidelik.

“’n Ekstrovert is basies iemand wie se battery gelaai word wanneer hy by mense, situasies of aktiwiteite betrokke is.

“’n Introvert is iemand wie se battery laai wanneer hy alleen en rustig is, of in sy binnewêreld ingaan; sy batterye loop weer meestal af as hy tussen mense is en by dinge betrokke moet raak.

“As jy byvoorbeeld ’n introvert is wat die heeldag met mense moet werk, is jou batterye die heeltyd besig om af te loop; as jy ’n ekstrovert is wat heeldag alleen tyd spandeer, dan is jou batterye ook besig om te ontlaai.

“Dit kan gebeur dat ’n ekstrovert en ’n introvert albei ’n besige dag gehad het; wanneer hulle dus saam by die huis is, dan vind jy die ekstrovert se battery is gelaai, maar die introvert is nie reg vir gesels nie.

“Introverte moet dus eers hul batterye herlaai deur alleen en rustig te wees; hulle is nie noodwendig kwaad of mislik nie.

“’n Ekstrovert wil na ’n harde, besige week sosialiseer, maar ’n introvert se idee van ’n lekker naweek is ’n boek, die bed, lank bad of ’n entjie gaan stap.”

Volgens Klopper het ekstroverte dus vriende en mense-kontak nodig.

Sy bevindings is dat ekstroverte soms baie impulsief is en dat hulle maklik reageer. Hulle sal agterna reflekteer en besef hulle het miskien te gou reageer of gepraat.

“Introverte is egter geneig om te dink, te reflekteer, verder te reflekteer en dan miskien te praat,” het hy verduidelik.

”’n Introvert is iemand wie jy lank kan ken, maar van wie jy niks weet nie.

”Hulle is baie privaat en praat nie maklik oor hul eie persoonlike goed nie.”

Klopper het gesê dat as dit by verhoudings kom, is dit belangrik om te onthou dat ekstroverte geneig is om oor hul emosies te praat, waar introverte hul emosies opbottel.

n Hoe, en op grond van wat, neem jy besluite?

Volgens Klopper, val ons in ons persoonlikhede in twee afdelings; party mense neem hul besluite altyd met die kop (denkers), terwyl ander hul besluite oorwegend met die hart (emosioneel) neem.

“Denkers en mense wat na die hart luister, praat heeltemal verskillende tale wanneer dit kom by besluitneming,” het hy gesê.

“Denkers is geneig om gesteld te wees op die waarheid, asook as dit kom by reg en geregtigheid.

“Mense wat met die hart besluit, sal bekommerd wees oor die verhoudings en die harmonie; hulle sal nie sommer oorhaastige besluite neem nie.

“Mense wat besluite met die kop neem wil glad nie gevoelens en emosies betrek nie – dis net reg of verkeerd. Hulle kan hulself heeltemal uit die situasie haal om na die opset te kyk.

“Persone wat besluite met hul hart neem, plaas hulself binne in die situasie, oftewel, hulle plaas hulself in ander mense se skoene.

“Denkers kan spontaan fout vind en kritiseer, maar dié wat met die hart besluit het die vermoë om dinge spontaan te waardeer en sien altyd die mooi in iets raak.

“Denkers word baie keer gesien as hardekwas en ongevoelig, terwyl persone wie se besluite op die hart berus as emosioneel voorkom.”

n Watter leefstyl handhaaf jy?

Klopper beweer dat mense hulle leefstyl volgens oordeel (O’s) of persepsie (P’s) orden.

“O’s is mense wat ’n sterk gestruktureerde en geordende leefstyl het, en P’s is mense wat geneig is tot ’n oop, buigbare, aanpasbare en ’n nie-vaste lewenstyl,” het hy vertel.

Johan van Heerden vermaak die dames met van sy gunsteling liefdesliedjies.
Johan van Heerden vermaak die dames met van sy gunsteling liefdesliedjies.

“Byvoorbeeld, in O’s se kaste is alles op hul plek en perfek gerangskik, waar P’s se kaste chaoties is.

“O’s hou van defnitiewe orde en struktuur en P’s gaan met die stroom. O’s hou nie van skielike planne of ’n verandering aan planne nie, maar vir P’s is dit niks ernstig as planne skielik verander nie — hulle is baie oop en hou van verrassings.

“O’s hou daarvan dat dinge voor die tyd gereël word en P’s hou daarvan om die vryheid te hê om spontaan nuwe dinge te kan doen.

“O’s hou daarvan om ’n saak te ondersoek en ’n besluit te neem; P’s het ’n moeilike taak met besluitneming – vir hulle beteken besluitneming finaliteit.

”Hulle hou daarvan dat die opsies oop moet wees, dus sal hulle ’n besluit so lank moontlik uitstel.

“O’s mag voorkom as veeleisend en onbuigsaam en P’s mag voorkom as ongeorganiseerd, deurmekaar en onverantwoordelik.”

Klopper het gesê dat, op die einde van die dag, as dit kom by verskillende persoonlikheidtipes, moet mense mekaar respekteer vir wie hullle is en dinge vir mekaar probeer makliker maak. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button