EntertainmentLifestyle

Adam aanhangers is ‘Smoorverlief’

Uit die groep Adam (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) se nuutste musiekvideo, Smoorverlief, vanaf hulle derde album, Goud, wat onlangs vrygestel is, kan ’n mens duidelik sien dat hulle aanhangers halsoorkop verlief is op hulle.

’n Geruime tyd terug al het die groep hulle aanhangers op Facebook gevra om vir hulle videos te maak en te stuur van waar hulle die liedjie Smoorverlief sing.

“Ons is absoluut oorweldig deur ons aanhangers se deelname,”sê Hugo Ludik, stigterslid van hierdie gewilde Suid-Afrikaanse pop groep, wat ook al die verhoog met internasionale sterre soos Westlife en Air Supply gedeel het.

“Die gehalte videos en die moeite wat hulle ingesit het is ongelooflik en ons kan werklik nie eens ons waardering in woorde omsit nie.”

In die video sing die aanhangers die liedjie vir Adam deur die Internet en die groep reageer deur dit vir die “fans” terug te sing – soos net Adam kan!

“Ons wou die aanhangers die geleentheid gee om te besluit hoe die volgende Adam video moet lyk,” vertel Jay Loots, vervaardiger van die musiekvideo en hoof van Fathom Media.

“Dit het baie aande se kommunikasie tussen ons, die aanhangers en Adam gekos, en duisende e-posse later het die videos begin instroom!

“Sommige mense het tot drie videos ingestuur, net om seker te maak hulle kom in die finale video.

Die groep se gedeelte van die video is op 3 Desember 2014 opgeneem en hulle beskryf dit as die lekkerste musiekvideo opname tot nou toe.

Smoorverlief is geskryf deur Hugo Ludik en Reynardt Hugo en pryk tans op talle radio stasies se trefferparades landswyd. – @IschkeBoksburg

Kyk die video hier:

Related Articles

Back to top button