Editor's choiceNewsSchools

Top student leer kliphard vir haar agt onderskeidings

Boksburg se top student, Liesl Theiss, van die Hoërskool Oosterlig, gaan vanjaar forensiese wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat aandurf.

Sy het nooit werklik geweet wat sy wil studeer nie, maar het wel besef dat sy behep is met wetenskap en wiskunde.

Sy het toevallig ontdek dat Kovsies ’n splinternuwe graadkursus in forensiese wetenskap aanbied (die eerste van sy soort in Suid-Afrika) en hoe meer sy daaroor nagelees het, hoe meer het sy daarvan gehou.

“Ek was van kleins af verskriklik nuuskierig; dié kursus kombineer my liefde vir wetenskap, my persoonlikheid en my passie vir geregtigheid,” het Liesl vertel.

“Ek dink dat hierdie kursus ook vir my iets bied wat min ander kursusse kan doen – ek sal nooit verveeld word nie.”

Liesl het ’n indrukwekkende agt onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, musiek, lewenswetenskappe en lewensoriëntering in die eindeksamen losgeslaan.

In sewe vakke het sy ’n gemiddeld van ongeveer 90 persent behaal.

Vra jy haar of leer vir haar lekker is, antwoord Liesl dat sy dit verskriklik geniet om haar kennis uit te brei en haar nuuskierigheid te bevredig deur nuwe dinge te ontdek.

“Ek glo dat kennis mag is en dat jy nooit te oud of te slim is om iets nuuts te leer nie,” het sy gesê.

“Tog is leer vir eksamens nie my gunsteling tydsverdryf nie en dit is blote deursettingsvermoë, ambisie en my familie se ondersteuning wat sorg dat ek hard leer.”

Liesl pas verskillende studiemetodes toe wanneeer sy vir haar vakke leer.

Volgens haar werk die deurgetrapte studiemetode van opsommings maak net vir haar met wetenskap.

In wiskunde, rekeningkunde en alle tale glo sy vas dat daar net een metode is wat werklik resultate lewer, en dit is oefen, oefen en oefen!

Met die leer van haar ander vakke het sy gebieg sy dat sy ’n leergewoonte het wat haar ouers mal maak: “Ek praat kliphard met myself!”

Haar laaste geheim met leer is dat aandagtige aandag in klastyd die leerwerk werklik minder maak.

Liesl het vertel dat sy ongelooflik lief is vir lees en dat boeke nog altyd ’n groot versoeking vir haar was.

Nie net is sy slim nie, maar sy het ook ’n bietjie kultuur in haar bloed.

“Ek het ’n sterk passie vir musiek en spandeer baie wonderlike ure voor my klavier en agter my tjello,” het sy gesê.

“Boonop hou ek van reis, skryf, dans en is ek ’n groot fliekboffin!”

Sy het jare lank ook ballet en ritmiese gimnastiek gedoen, maar het besluit om dit in matriek te staak, sodat sy op haar studies kon fokus.

Op skool was Liesl onderhoofdogter, die redaktrise van die skoolkoerant en die organiseerder van ’n fondsinsameling (die Bulletprojek) van die Hoërskool Oosterlig in 2014.

Sy het van graad agt af elke jaar aan verskeie kunswedstryde deelgeneem in tjello, klavier, lees en skryfkuns.

Sy was ook vyf jaar lank lid van die skool se redenaarsspan, lid van hul ATKV Jeugtak en ’n trotse deelnamer aan hul jaarlikse gospelproduksie en revue.

Liesl se ma, Anja, het haar onophoudelik gemotiveer met die duur van die eksamen.

Sy het kos en koffie aangedra, laat saam met haar wakker gebly en haar met drukkies en liefde oorweldig.

“Ek kan nie beskryf hoe baie sy vir my beteken nie en ek weet dat ek dit sonder haar nooit sou regkry nie,” het Liesl gesê.

“Sy was ’n engel in disguise gewees! Ek is ongelooflik dankbaar vir alles en verskriklik lief vir haar.”

Liesl het ook twee leuses waarby sy leef en wat haar deur hierdie stresvolle tydperk gedra het: ”Grace carried me here and by grace I will carry on” en ”You can never cross the ocean unless you have the courage to lose sight of the shore”.

Liesl bedank haar Hemelse Vader wat vir haar die krag en talente gegee het, en vir Sy liefde wat haar deur die eksamen gedra het; haar fantastiese onderwysers wat elke dag hulle beste gegee het; haar vriende wat deur alle moeilike tye saam haar gestaan het en haar die krag gegee het om deur te druk, en haar familie wat ongelooflik ondersteunend was en aan almal wat haar in hul gebede gehou het.

Liesl Theiss, Boksburg se top student, is nie net slim nie, maar het ’n talent om die tjello en klavier te bemeester.
Liesl Theiss, Boksburg se top student, is nie net slim nie, maar het ’n talent om die tjello en klavier te bemeester.

Haar boodskap aan die Oosies se matrieklas van 2015?

“Matriek is ongelooflik lekker, maar verby in ’n oogwink.

”Alhoewel matriekuitslae die res van jou lewe bepaal moet julle onthou dat julle die kort tydjie wat julle nog met vriende en onnies kan spandeer met oorgawe moet geniet.

“Leef elke oomblik voluit, lag elke dag en huil saam met jou pelle.

”Leer hard en doen alles tot die beste van jou vermoë, dan sal matriek beslis een van die beste jare van jou lewe wees.

”Bo alles, vertrou dat God jou deur elke eksamen op Sy hande sal dra en dat Hy jou onvoorwaardelik lief het.”

Na vyf fantastiese jare as ’n Oosie, het die Hoërskool Oosterlig diep in Liesl se hart gekruip! – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button