Editor's choiceLocal newsNews

Anargie staar SA Poskantoor in die gesig weens swak leierskap- VF Plus

Die voortslepende staking by die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) dreig nou om die instelling heeltemal lam te lê.

Volgens die VF Plus, dui dit daarop dat permanente personeel ook by die stakende deeltydse werkers gaan aansluit.

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, adv Anton Alberts.

Hy sê geweld en intimidasie van stakers teenoor nie-stakers en bestuurslede is veral kommerwekkend, en daar word gevrees dat selfs anargie die “Poskantoor in die gesig staar terwyl personeel, en veral senior personeellede, in die duister is oor die status en stappe wat geneem gaan word rakende dié industriële aksie,” sê Alberts.

Volgens Alberts dui uitsprake daarop dat die staking van permanente personeel reeds 30 September kon begin.

“Boonop blyk dit dat permanente werkers wat voornemens is om te staak, ’n wettige aanspraak op verhogings het wat hulle blykbaar nie gaan kry nie, aangesien die Poskantoor bankrot blyk te wees.

“Van die senior personeel het glo weens die impak van die staking van deeltydse personeel reeds hul werkers huis toe gestuur omdat daar nie vir hulle werk is om te doen nie.

“Die effek daarvan is dat pos nie afgelewer word nie. ’n Kommerwekkende aspek wat die bestuurders in die Poskantoor in die gesig staar is die gewelddadige aard van die staking en die feite dat die regering en topbestuur in die Poskantoor nie met enige klinkklare oplossing vir die probleem na vore kom nie.

“’n Senior bestuurder in die Poskantoor se afdeling van Menslike Hulpbronne, is reeds in ’n hospitaal opgeneem nadat hy by sy huis deur stakende werkers aangeval is. Stakers dreig ook om die aanvalle op bestuurders, selfs by hul huise, te verskerp.”

Volgens Alberts kan die effek van ’n uitgebreide staking deur permanente personeel geweldig negatief vir Suid-Afrika wees, aangesien dit nie net sakeondernemings sal raak nie, maar ook die vermoë van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om belastings te vorder negatief sal raak, aangesien baie mense nie toegang tot die elektroniese medium het nie.

Alberts sê die staking het begin toe tydelike werkers aangestel is op ’n laer voordeelvlak as bestaande werkers.

Dit is na bewering gedoen omdat daar nie genoeg geld was om hulle aan te stel op die vlak van bestaande werkers nie.

“Die probleem nou met bestaande werkers, is dat hulle kontraktuele verwagtings om verhogings te kry, nie nagekom word nie, en hulle om die rede dreig om te staak.

“Die netto-effek is dat die Poskantoor se wiele heeltemal tot stilstand gedwing kan word en dat anargie en geweld kan gedy.”

Volgens Alberts kan Suid-Afrika in geheel weerloos gelaat word deur ’n essensiële kommunikasiestelsel wat nie werk nie, en die VF Plus doen daarom ’n beroep op die regering om spoedig en effektief in te gryp en duidelik aan alle belanghebbendes te kommunikeer wat die plan van aksie is. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button