Editor's choiceLocal newsNews

Verarmde wittes kan nie weggewens word nie – VF Plus

Die Staat kan nie die toenemende verarming onder wit Suid-Afrikaners en ander minderhede bloot wegwens, omdat hulle statisties gesproke, onbenullig teenoor die swart massas blyk te wees nie.

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling, adv Anton Alberts.

Luidens ’n berig in Woensdag, 3 September, in ‘n nasionale koerant sê statistikus-generaal van Suid-Afrika, Pali Lehohla, daar is te min armoede in wit huishoudings om dit by statistieke oor hulpbehoewende huishoudings in te reken.

Volgens Alberts, luidens die sensusdokument waaroor berig word, is daar geen statistieke oor armoede vir wit huishoudings nie, terwyl net 0.4 persent van Indiër-huishoudings as hulpbehoewend gereken word.

“Dus, 40.3 persent van swart Suid-Afrikaners en meer as 20 persent van bruin huishoudings word as brandarm gereken.”

Alberts sê dit is bekend dat armoede onder wittes die laaste twee dekades hand-oor-hand toegeneem het, en dat regeringsbeleid soos regstellende aksie ’n groot rol hierin speel.

“Dit is skokkend dat Statistiek Suid-Afrika (SSA) self erken dat hy geen statistiek het oor wit verarming nie. Dit terwyl mense wat werk doen in die sogenaamde wit plakkerskampe, reken dat daar tot 800 000 mense net in sulke kampe gehuisves word.

“Meet dit teen die aantal wittes in die land, en die persentasie is enorm. Die regering kan die probleem nie wegwens nie. Net omdat ’n minderheid ’n klein deeltjie van ’n groot meerderheid in die bevolking uitmaak, beteken nie hulle is irrelevant nie.

“Net een voorbeeld is die sowat 66 000 Transnet-pensioenarisse wat tans ’n geding teen Transnet en die Staat het, en wie se inkomste hulle in die klas van werklik arm mense laat val.”

Die VF Plus het die laaste week van Augustus die onderneming van SSA ’n landwye peiling te doen om die vlakke van armoede en ongelykheid in die land te meet verwelkom, maar het toe reeds gesê hy sal toesien dat wit, bruin en Khoisan bygereken word.

“Na hierdie kommerwekkende uitsprake van Lehohla is ons nog meer vasbeslote om dit te doen. Dit is skreiend dat die Staat se beleid hierdie armoede onder minderhede help skep wat nou geïgnoreer word.

“Indien SSA sê hulle weet nie waar om die verarmde mense op te spoor nie, sal die VF Plus hulle daarheen neem,” sê Alberts. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button