EntertainmentLifestyle

Nuwe opwindende toneelstuk propvol humor

Kykers kan uitsien na 'n aantal opwindende toneelstukke wanneer hulle na My Boetie se Sussie se Ou gaan kyk.

Dit is volgens Ana van Achterbergh wat die rol van Mary vertolk.

Die Advertiser het besluit om ‘n bietjie saam met die akteurs van die opvoering uit te hang en het bietjie meer uitgevind oor die opvoering.

My Boetie se Sussie se Ou is Pierre van Pletzen se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney se Caught in the Net, en is onder die regie van Suid-Afrika se klugkoning Frans Swart.

Swart het reg op al Cooney se produksies en beskryf hom as die top klugkomedie skrywer.

“Hy werk elke produksie wetenskaplik uit met ‘n diagram. ‘n Klug is die mees onrealistiese ding wat jy die mees realisties moet speel,” vertel Swart.

Ander Cooney produksies waaraan Swart voorheen gewerk het, is My Vrou se Man se Lyk se Tas (Funny Money) en My Vrou se Man se Vrou (Run for your Wife).

Swart het al vantevore aan baie ander klugte gewerk, maar beskryf My Boetie se Sussie se Ou as die moeilikste tot dusver.

“Op stel moet die ouens kophou – daar het klaar snaakse goed gebeur soos tydens ‘n vertoning by die KKNK waar hulle hul woorde vergeet het.”

Volgens Botha Enslin wat die rol van Stanley vertolk, is die produksie ‘n bul om mee te stoei. “Maar dis wat dit lekker maak,” sê hy.

Met My Boetie se Sussie se Ou poog Swart en sy span om mense te laat lag.

Die stuk bevat daardie “laugh per minute” faktor.

“Kom teater toe en have a ball. Wanneer mense na ‘n klug kyk, vergeet hulle vir twee ure van die wêreld.”

“Mense moet net kom lag en ontspan oor die manewales van John Smith en sy twee gesinne. Die wetenskaplikes sê mos daar is niks wat ‘n mens beter laat ontspan as lag nie. Mense wil nie meer wroeg nie – daarvoor sorg ons politiek beslis baie goed – ons mense wil lag. En dis juis wat dié toneelstuk gaan bring.”

Swart vertel van ‘n geleentheid op ‘n boottoer waar ‘n vrou uit die teater gestap het terwyl die produksie aan die gang was.

“Ek was bekommerd dat sy dalk nie daarvan gehou het nie, maar sy moes toe net uitstap om asem te skep, want sy wou haar doodlag!”

Swart het elke akteur noukeurig uitgekies vir die spesifieke rol wat hy vertolk – akteurs wat hy weet die gebeurtenisse so realisties moontlik sal oordra.

“Elkeen is perfek gekies om hul rol te speel,” vertel Swart.

Volgens Swart kom elke akteur goed oor die en lag hulle baie saam.

“Hulle word soos ‘n familie. Dis hartseer wanneer die produksie klaar is, want dan is die familie weg.”

Anèl du Plessis, wat die rol van Vicky vertolk, vertel ook die gees onder die span is feestelik en dat almal baie nà aan mekaar en ontfanklik is.

Vra jy Swart waarom mense hierdie teaterstuk moet kom kyk, antwoord hy dat My Boetie se Sussie se Ou oor al die elemente beskik om die gehoor aan die lag te kry en aan die lag te hou.

“Lag is net so goed soos antibiotika. As jy Boetie kom kyk, word jy gedwing om te lag. Die lekkerste is, daar wag twee surprises. Sodra mense dink die stuk is klaar, dan kom daar nog ‘n surprise.”

My Boetie se Sussie se Ou word tot 1 Junie by Emperors Palace se Marcellus Teater opgevoer.

* In My Boetie se Sussie se ou ontmoet ons weer vir John Smith (David Rees), die Londense Taxi-bestuurder wat saam met sy vrou Mary (Ana van Achterbergh) in Highgate gewoon het, en ook met sy vrou Barbara (Cindy Swanepoel) in Finchley, net vier minute uitmekaar.

Vicky (Anèl du Plessis), John en Mary se dogter en Gavin (Francois van Rensburg), seun van John en Barbara Smith, ontmoet in ‘n Internetkletskamer en is angstig om in persoon te ontmoet.

Wanneer John van hierdie jong internetromanse te hore kom, moet hy behoorlik bontstaan om sy kinders uitmekaar te hou en sy dubbele lewe geheim van sy kinders sowel as sy vrouens.

John klop natuurlik by sy vriend Stanley Gardener (Botha Enslin) aan om hulp.

En wanneer Stanley se seniele pa Dêda (Hennie Smit) opdaag vir vakansie, is die gort behoorlik gaar.

Related Articles

Back to top button