Local newsNews

Helpende hand het die publiek se hulp nodig

Helpende Hand is ’n nie-winsgewende organisasie en totaal afhanklik van donasies vanuit die gemeenskap.

Die publiek word herinner om Solidariteit Helpende Hand Boksburg se Jockeys en Sokkies-projek te ondersteun.

Met dié projek poog die plaaslike Helpende Hand-tak om vir minderbevoorregte kinders kouse en onderklere in te samel.

“Die idee vir hierdie projek het gekom na ons ’n Kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders gehou het. Die ouers moes vir ons ’n wenslys stuur van watter geskenk hul wil hê by die partytjie.

“Dit was vir ons skokkend om te sien hoeveel ouers gevra het vir onderklere en kouse in plaas van speelgoed. Ons het toe besef daar is ’n groot nood onder behoeftige gesinne vir onderklere en kouse vir kinders,” het Amanda Zeelie van Helpende Hand Boksburg gesê.

Volgens Zeelie sal elke skenking ten bate van die projek opreg waardeer word.

“Lede van die publiek kan onderklere en kouse vir seuns en meisies skenk. Ons samel die items vir kinders van voorskool tot matriek in. Dit kan ook tweedehands wees indien dit in ’n baie goeie toestand is,” het Zeelie bygevoeg.

Sy het almal bedank wat reeds donasies gemaak het aan die organisasie.

Die publiek word ook aangemoedig om die organisasie se liefdadigheidswinkel, Ons Winkel, te Mainstraat 49, Witfield, te ondersteun.

Lede van die gemeenskap kan ook items skenk vir die winkel.

Donasies soos kombuisware, linne, speelgoed en klere is welkom. Die goedere word dan weer teen ’n bekostigbare prys aan die publiek verkoop. Dit stel Helpende Hand in staat om maatskaplike hulp aan die gemeenskap te lewer, werksgeleenthede te skep en studiefondse te voorsien aan behoeftige studente wat wil studeer, maar nie oor die finansies beskik nie.

Ons Winkel se deure is oop van 10:00 tot 16:00 op weeksdae en van 10:00 tot 15:00 op Saterdae. Vir meer inligting, kontak André Zeelie (voorsitter) by 060 550 6077.

Also Read: Helpende Hand Boksburg reik uit na ouetehuise en instansies

Also Read: Gee ’n helpende hand aan behoeftiges

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button