NewsSchools

Bloed vloei vir bloedbank by EG Jansen

Ouers, personeel, leerders en lede van die gemeenskap het nie geskroom om die dag te ondersteun nie.

Hoërskool Dr EG Jansen het met sy eerste bloedskenkdag op 17 September betekenis gegee aan sy leuse: “Ons sal handhaaf”.

Die spogskool het onlangs hande gevat met sy buurskool, Laerskool Concordia, wat gewoonlik op ’n maandelikse basis bloed insamel. Die skole het besluit om nou om die beurt maandeliks bloedskenkdae aan te bied.
Hierdie maand was dit EG Jansen se beurt om ’n bloedskenkdag te hou. Hulle het 147 eenhede bloed ingesamel vir die SANBD.
Lede van die nasionale bloedbank was vanaf 08:00 met hul beddens, naalde, sap en koekies gereed om skenkers by te staan. Tot na 16:00 is beddens volgesit.

Ouers, personeel, leerders en lede van die gemeenskap het nie geskroom om die dag te ondersteun nie. Die Advertiser se redakteur, Lana O’Neill, het ook haar moue opgerol om bloed te skenk.
Volgens Ronel Steenkamp, projekbestuurder, het al die ondersteuning die skool se verwagtinge oortref.

“Dit was ongelooflik om die sien hoe baie leerders bereid was om bloed te skenk. Selfs die wagte, werkers en kantoortannies het bloed geskenk. Ons wil graag die kultuur skep dat mense bloed moet skep om ander se lewens te red.

“Ek wil graag names die skool dankie sê aan al die leerders en almal wat hul harte oopgemaak het teenoor die nasionale bloedbank, asook die Boksburg Advertiser,” het Steenkamp gesê.
Trude Gareekoe van die nasionale bloedbank het haar dank uitgespreek teenoor die skool se bestuur, beheerliggaam en almal wat bloed geskenk het.

“Vandag het julle ons gehelp om omtrent 441 lewens te red. Vyf-en-negentig persent van die skenkers was nuwe skenkers. Dit is wonderlik, omdat meeste van hulle jonk is. Die jeug is ons toekoms.
“Die 147 eenhede gaan ons ver bring, omdat die SANBD se bloedvoorraad laag is. Daarom wil ek ook names die pasiënte dankbaarheid uitspreek oor bloed wat ingesamel is,” het Gareekoe gesê.
Die volgende bloedskenkdag sal op 14 en 15 Oktober by Laerskool Concordia plaasvind.

Also Read: #Concordiabloedskenk: 58 eenhede bloed ingesamel in Augustus

Also Read; Concordia maak harte oop teenoor Huis Dien Bothma

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button