NewsSchools

#Concordiabloedskenk: 10 eenhede bloed ingesamel in Junie

Volgens die nasionale bloedbank het ongure weersomstandighede en die onsekerheid weens Covid-19 ’n invloed gehad op die aantal skenkers.

Laerskool Concordia het tydens hul bloedskenkprojek op 7 Junie ’n totaal van 10 eenhede bloed vir die SANBD ingesamel, ’n afname van 27 eenhede teenoor verlede maand.

Die skool samel gewoonlik oor die 50 eenhede bloed in vir die nasionale bloedbank, maar die afgelope twee maande het minder mense bloed geskenk.

Ronel Steenkamp, organiseerder van die inisiatief, het gesê: “Dit is nie wat ons wou hê nie, maar ons verstaan dat mense bang is om bloed te skenk noudat die aantal positiewe Covid-19-gevalle weer styg.
“Weens die pandemie kon ons nie soos beplan ook op 11 Junie bloed insamel nie.

“Met die derde vlaag op hande gaan die bloedbank juis meer bloed nodig hê en hul maak staat op die skool se bydrae. Daarom sal ons weer bloed insamel en help waar ons kan,” het Steenkamp gesê.

Sy het almal bedank wat die koue trotseer het en die gemeenskap aangemoedig om in die toekoms bloed te skenk.

Trude Gaarekoe van die SANBD het verduidelik die bloed wat die skool ingesamel het gaan hul help om ongeveer 30 lewens te red.

“Ons wil graag vir die skool dankie sê omdat hul altyd bereid is om ons by te staan, asook die ouers wat so gereeld kom bloed skenk,” het Gaarekoe gesê.

Volgens haar het ongure weersomstandighede en die onsekerheid weens Covid-19 ’n invloed gehad op die aantal skenkers.

“Noudat Suid-Afrika in die derde vlaag van Covid-19 is, is mense weer bang om bloed te skenk. Ons wil net mense daaraan herinner dat SANBD al die nodige voorsorgmaatreëls in plek het. Die veiligheid van ons skenkers en personeel is belangrik.

“Tydens die derde vlaag gaan die aanvraag op bloed meer wees en daarom is dit belangrik dat mense steeds gereeld bloed skenk,” het sy bygevoeg.

Weens die pandemie kon die skool nie in 2020 ’n groot bloedskenkdag hou nie, dus samel hul nou op ’n maandelikse basis bloed in.

Die skool sal die publiek op hoogte hou van die bloedskenkdae wat in Julie gaan plaasvind.

LEES OOK: Nog ’n bloedskenk rekord wink vir Concordia

LEES OOK: Concordia samel 46 eenhelde in vir nasionale bloedbank

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button