Local newsNews

AfriForum Boksburg spog met nuwe voorsitter

Die Van Dyk Park-inwoner is opgewonde om nou die voorsitter te wees en glo hy is reg vir die uitdaging.

Francois Reyneke staan nou gereed om die leisels oor te neem as die burgerregte-organisasie AfriForum Boksburg se nuwe voorsitter.

Reyneke is gebore en getoë in Boksburg en is ’n besigheidseienaar. Hy is nou al vier jaar ’n lid van AfriForum en twee jaar aktief betrokke by die plaaslike tak.

Dié Van Dyk Park-inwoner is opgewonde om nou die voorsitter te wees en glo hy is reg vir die uitdaging.

“’n Goeie voorsitter moet lojaal, eerlik, regverdig en streng wees. Dit is die tipe voorsitter wat ek gaan poog om te wees.

“My rol as voorsitter is om seker te maak alles gaan klopdisselboom by AfriForum Boksburg. Dit gaan baie werk verg, omdat ons een van AfriForum se jongste takke is.

“Ek glo my uitdagings sal wees om dit te laat groei en om goeie besigheidsverhoudings met ander misdaadbekampingseenhede te vorm.”

Volgens Reyneke gaan AfriForum onder sy leiding steeds gereeld projekte aanpak, soos ’n skoonmaaksessie wat hul naby die Tambo Memorial-hospitaal wil reël.

Verder voer hy aan AfriForum sal altyd betrokke wees by bekamping van misdaad.

“Ek het altyd op die kantlyn gesit en kommentaar gelewer totdat misdaad my ook getref het in die vorm van ’n kaping en inbraak. Die CPI in Van Dyk Park het my bygestaan en dis waar alles begin het.

“CPI, julle rock. Ek was betrokke by ’n gesamentlike AfriForum en SAPD-operasie en dis waar ek aangesluit het by die Boksburg tak.

“Ons was maar min AfriForum-lede en net ses aktiewe reageerders. Ek het later die geleentheid gekry om ondervoorsitter te wees van die tak en het baie by Helen Bergh geleer wat nou afgestaan het as voorsitter weens ander verpligtinge.

“Nou is ons ’n bietjie sterker met omtrent 300 lede en so 34 aktiewe reageerders. Ons het nou ook ’n paar besigheidsvennote,” het hy bygevoeg.

Volgens Reyneke het AfriForum die gemeenskap se hulp nodig om misdaad te bekamp. Daarom nooi hy inwoners uit om betrokke te raak by dié taak.

LEES OOK: Afriforum stig buurtwag in Boksburg

LEES OOK: AfriForum and community members clean Chris Smith Park

 

Related Articles

Back to top button