Local newsNews

Rudi Claase sterk aan in rehabilitasiesentrum na beroerte

Die talentvolle sanger is terug na 'n bekwame spesialis vir nog 'n CT-skandering en die erns van die saak is bevestig.

Die gewilde sanger en liedjieskrywer Rudi Claase is onseker of hy ooit weer sal kan skryf of sing nadat hy ongeveer ‘n maand gelede ‘n ligte beroerte gehad het.

Die Rynfield-inwoner het op 31 Mei in die sosiale media aangekondig dat hy nou in ‘n rehabilitasiesentrum aansterk na die beroerte.

“Hierdie is vir my bitter swaar. Ek gaan nie stilbly nie. My aanhangers behoort te weet.
“Verskoon as ek tikfoute maak, ek verduidelik binnekort. Ek het sowat ‘n maand gelede ‘n ligte beroerte gehad (stresverwant), wat ‘n uur lank geduur het en die linkerkant van my liggaam totaal verlam het. My een oog het oop gebly vir ‘n volle uur en was totaal onbewus en styf,” het hy aan sy 35 485 volgelinge op Facebook geskryf.

Bure het die 38-jarige musikant na die Linmed-hospitaal, wat slegs twee kilometers van sy huis af is, geneem.

Volgens Claase se verklaring het dit ‘n uur gevat om hom wakker te kry, en stres het sy are laat platval.
“Dit het 13 pogings geneem om ‘n drip in my are te kry wat finaal in my voet gewerk het.

“Ek het wakker geword in ‘n privaatsaal en kon glad nie praat nie. So uur later kon ek geluide maak en ‘n dag of wat later was ek ontslaan. Sowat ‘n week later het ek vreeslik begin sukkel om te tik op my foon en as ek my linkervoet voor my regtervoet gesit het, het ek omgeval. Dit is steeds so. Ek hakkel ook as ek praat en sing,” het hy geskryf.

Die talentvolle sanger is terug na ‘n bekwame spesialis vir nog ‘n CT-skandering en die erns van die saak is bevestig. Die skade is daar.

“Ek is nou in ‘n privaat rehabilitasiesentrum. Wie weet vir hoe lank, en wie weet of dit die einde is? Sinne wil nie eers mooi vorm nie. Dalk is dit koebaai vir Rudi, maar ek weet darem verseker, ek los ‘n nalatenskap wat my Here God vir ewig voort sal laat lewe.

“Verder kan ek net self bid en nie opgee nie en vra dat julle, my volk, vir my stem, my wysies en my woorde bid. Ek sal nie stil word nie, Suid-Afrika!

“Meer as 700 liedjies dans op waters van rus en sal nooit stilgemaak kan word nie.
“Ek bedank elke Suid-Afrikaanse kunstenaar wie my liedjies laat lewe het en ek bedank die inspirasie vanaf God vir my laaste en nuuste album, Liedjieskrywer.

“Ek dink daarop het ek alles gesê wat ek moes. Abba Vader. Tot in ewigheid.

“Wie weet, ek glo in wonderwerke. Niks is finaal tot God so besluit nie. Ek glo, ek glo,” het hy die inskrywing afgesluit.

Claase het Liedjieskrywer op 10 April te Photo Studio East Rand in Bartlett vrygestel. Die CD is goed ontvang en was ook onlangs nommer een op die Suid-Afrikaanse iTunes.

Lees Ook: Rudi Claase se nuutste album verkoop soos soetkoek

Lees Ook: Rudi Claase se hart en siel in nuutste solo-album

   

Related Articles

Back to top button