Sport

Pieter Jansen maak naam vir homself in Amerika se rugbykringe

Die nederige rugbyspeler droom daarvan om eendag internasionaal te speel

Pieter Jansen (26), ‘n oud-leerling van Hoërskool Dr EG Jansen, gaan nou sy rugbyvaardighede in Amerika ten toon stel.

Jansen het onlangs by die New England Free Jacks van die Major League Rugby (MLR) aangesluit.

Die talentvolle haker het na skool vir die Goue Leeus begin uitdraf. Sy loopbaan het sedertdien vlamgevat en in 2019 het hy sy Superrugby-debuut vir die Leeus gemaak teen die Jaguares in Argentinië.

Pieter Jansen het in 2019 sy Superrugby-debuut gemaak. Foto: Instagram.

“Dit was vir my ‘n groot voorreg om in die Superrugby-reeks te kon speel en ek beskou dit as ‘n hoogtepunt in my loopbaan. My debuut was ongelooflik en iets wat ek nie sal vergeet nie. ‘n Mens kan nie ‘n prys daarop sit nie. Ek het die geleentheid gehad om myself teen die bestes in die wêreld te toets.
“Die taaiste spelers teen wie ek al gespeel het is Augustin Creevy en Akker van der Merwe. Ek het ook al saam met briljante spelers soos Malcolm Marx gespeel,” het hy gesê.

Skaars ‘n jaar na sy Superrugby-debuut het Covid-19 pandemie die land in ‘n wurggreep en volgens Jansen het dit ‘n invloed gehad op sy besluit om die land te verlaat.

“Die inperking was ingestel en ek was nie seker wat gaan gebeur nie. Dit was nie ‘n besluit wat ek ligtelik opgeneem het nie, maar ek het gedink ‘n nuwe uitdaging sal goed wees vir my,” het hy verduidelik.

Jansen het gesê dat hy gelukkig is en goed aanpas in Boston. “Dit was aan die begin ‘n aanpassing. Alles is groter en meer. Darem is al die mense vriendelik en behulpsaam. Ek leer ook baie, nie net op die veld nie, maar van die veld af.

“Rugby is besig om gewilder te word in Amerika. Anders as in Suid-Afrika word hier al toeskouers toegelaat by stadions. Dit is net nie dieselfde om in ‘n leë stadion te speel nie,” het Jansen bygevoeg.

Wat hy die meeste van Suid-Afrika mis is sy familie, meisie en vriende.

“Ek mis ook ‘n lekker stuk biltong en braaivleis. ‘n Mens kan die seun uit Boksburg haal, maar jy kan nie Boksburg uit die seun uit haal nie,” het hy gesê.

Jansen het in ‘n sportiewe huishouding grootgeword en het van kindsbeen af belanggestel in rugby. Hy droom daarvan om eendag op internasionale vlak rugby te speel.

Verder studeer Jansen BCom Finansies aan die die Universiteit van Suid-Afrika omdat hy ’n “kop vir syfers het”.

Wat is sy raad aan aspirant-rugbyspelers?

“Jy moet nooit laat iemand jou droom afskiet nie. Gaan die ekstra myl om jou doelwitte te bereik. Jy moet ook besef dat dit harde werk is en dat jy opofferings gaan moet maak.

“Dit is ook belangrik om die spel en die proses te geniet.”

Lees Ook: Boksburg seëvier teen ERU in Valke Peregrine-liga openingswedstryd

Lees Ook: Former East Rand United coach joins the Valke

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button