NewsSchools

Oosterlig rou na matrikulant van 2020 sterf

Die krulkopseun word beskryf as ’n borrelende persoon

Hoërskool Oosterlig se vlag het op 31 Maart halfmas gehang tot eer aan Sarel Burger, een van die skool se 2020 matrikulante, wie dood is.

Sarel het die middag van 30 Maart gesterf weens septisemie en oorgaanversaking nadat hy drie maande in die Glynnwood-hospitaal die stryd gevoer het met medisie komplikasies weens ’n bloedklont.

Volgens die matrikulant se ma, Yolanda Burger, laat hy ’n “baie groot leemte” in haar en sy pa se lewens.

“Ons is gebroke en probeer alles nog verwerk. Dit is vir ons baie moeilik en ons mis hom baie. Ek weet nie hoe ek sonder hom gaan aangaan nie. Hy sou op 15 April 19 geword het. Sy lewe moes nou eers begin het,” het sy gesê.

Volgens Yolanda was Sarel, haar enigste kind, ’n borrelende en goeie mens vir wie almal lief was.

“Hy is die dapperste seun wat ons ken. Hy het baie pyn gehad, maar het nooit gekla nie. Sarel was ’n mooi kind wat ons nie ’n dag se probleme gegee het nie,” het Yolanda vertel.

Sy het bygevoeg dat haar seun veral lief vir diere was en hy het daarvan gehou om te lees en skryf in Afrikaans.

“Sarel was passievol oor skyf en het selfs ’n ATKV-prys vir sy skryfstuk gewen. Hy het ook ’n gedig vir my geskryf.”

Yolanda het haar dank uitgespreek teenoor die mediese personeel van die Glynnwood-hospitaal op die derde vloer se intensiewesorgeenheid.

“Ek wil ook graag dankie sê aan almal se ondersteuning, liefde en omgee-boodskappe,” het sy bygevoeg.

Oosterlig se hoof, Francois Nel, het namens die skool medelye aan Sarel se familie betoon.

“Ons innge simpatie aan Sarel se geliefdes. Dit is vir ons sleg om ’n oud-Oosie aan die dood af te staan. Ons deel in hulle hartseer,” het die hoof gesê.

Sarel se beste vriendin, Caitlain Groenewald, het die volgende huldeblyk aan hom opgedra:

“Sarel, my boetie, jy het ’n spesiale plek in my hart. Dit is nou leeg en ek weet niemand sal dit weer kan vul nie. Jy het ’n besondere invloed op my lewe gehad en jy het die grootste impak gemaak. Jy is my beste vriend. Die vriend wat ek in jou gevind het, vind baie mense nooit nie. Ek is bevoorreg om jou my beste vriend te noem. Ek is lief vir jou,” het sy geskryf.

Sarel laat sy ouers, ouma en oupa, familie en vriende agter.

Daar sal ’n roudiens vir hom gehou word op 9 April om 11vm te Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika – Boksburg.

Sarel het die volgende gedig, Sonneblom, vir sy ma geskryf:

Wanneer die lewe ’n deur
toeklap…maak dit weer oop. As
vrees en sy maatjies daar
staan, laat hoop hulle die hase
pad wys.
Kyk met argusoë na die wind van
onsekerheid en draai jou mantel
daar teen, voordat dit jou tref
sonder om te blik of te bloos.
Wanneer swartgalligheid jou
oorrompel, soos ’n hoë gety op
’n donker volmaannag; staan
rotsvas. Totdat die goudgeel strale van optimisme glashelder
op jou skyn.
Wees ’n Sonneblom, dra jou kop
hoog, Gedraai na die reuse geel ster
wat in die hemel hang en strale van vreugde, hoop en samesyn uitstraal.

Lees Ook: Matrikulant van Oosterlig verloor stryd teen lupus

Lees Ook: Medelye stroom in na EG Jansen-matrikulant sterf

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button