EntertainmentLifestyle

Rudi Claase se hart en siel in nuutste solo-album

Die album is gebaseer op hoe Rudi tans die lewe ervaar

“Hierdie album is eerlik, dit is hoe ek die lewe aanskou. Vir so lank het ek net populêre musiek gesing, maar in die CD het ek uiteindelik my eie stem en klank gevind.”

Só het gewilde musikant Rudi Claase gesê oor sy eerste solo-album in agt jaar, Liedjieskrywer, wat binnekort vrygestel gaan word.

Die eerste enkelsnit van die album is Woordeloos en word saam met die musiekvideo op 12 Maart vrygestel. Die album word op 9 April vrygestel en die CD-bekendstelling gaan op 10 April te Photo Factory in Bartlett plaasvind.

Die Advertiser het meer gaan uitvind oor die talentvolle sanger en liedjieskrywer van Rynfield se nuwe album.

Wat is die inspirasie agter jou nuwe CD?

Daar is so bietjie van alles op die album, van dans-treffers tot ballades, en een of twee liedjies wat hopelik mense sal inspireer. Die album sal mense wys dat ek ook net ‘n mens is wat deur presies dieselfde emosies en struikelblokke ervaar as enige ander persoon.

Wat kan aanhangers verwag van jou nuwe musiek?

Die album is gebaseer op hoe ek huidiglik die lewe ervaar, wat ek voel en dink. In elke liedjie wat ek skryf, of dit vir myself of iemand anders is, los ek so bietjie van my hart in daai liedjie. Dit is ‘n lekker-luister CD en enige ouderdomsgroep behoort dit te geniet.

Is daar ‘n liedjie wat vir jou uitstaan?

Die liedjie wat vir my uitstaan op die album is Manna. Hierdie liedjie tuimel al in my gedagtes rond vir meer as drie jaar. Baie mense vra vir my waar kry ek die inspirasie om liedjies te skryf. Ek kan eerlik sê dat daar nie vir my ‘n proses is nie. Ek moet net wag not ‘n melodie en lirieke in my kop inkom. Dit is net ‘n gawe wat vir my gegee is. Ek beskou dit as “Manna wat van bo afkom”. Die lirieke word vir my geleen om te deel met die publiek. As mense dit hoor kan hulle dit anders interpreteer, maar dit beskryf eintlik my hele liedjieskryfproses.

Het jou nuwe CD ‘n spesifieke tema?

Die enigste tema in my CD is dat ek elke liedjie geskryf het.

Verskil hierdie albums van jou voriges?

My eerste solo-CD’s soos Talita en Jambo was sokkie-liedjies, daarna het ek vir 10 jaar net op Lieflinge gefokus en al ons liedjies was nostalgie-gedreve. My laaste solo-CD, Kom ek skryf jou ‘n liedjie, was meer klassiek. Hierdie album het meer woema en mense kan lekker dans. Die een ding wat ek altyd konstant hou is dat ‘n liedjie se lirieke vir my belangrik is en moet ‘n boodskap oordra wat mense kan verstaan.

Het Covid-19 ‘n impak gehad op die maak van jou CD?

Ek het laas jaar ‘n groot mantelvliesbreuk-operasie ondergaan en kon vir ses maande nie sing nie. Dit was alles in die grendeltyd, so dit het my nie te veel geraak nie. Die impak van my operasie was wel dat ek nie gedurende die grendeltydperk my liedjies kon “demo” nie en dit het die CD-vrystelling met so vier maande uitgestel.

Wat wil jy graag bereik met die nuwe album?

Ek wil nog altyd ‘n verskil maak met my woorde. My liedjies word by troues, partytjies en begrafnisse gespeel of gesing. Mense moet ‘n boodskap kry, iets waarmee hulle kan identifiseer. Die album dra nog steeds daardie boodskap deur, maar miskien net in ‘n meer “uptemp” manier.

Waar kan die publiek jou CD koop?

Ongelukkig het ons nou almal gehoor dat Musica nie meer CD’s gaan verkoop nie. Die album sal op alle digitale platforms beskikbaar wees van die 10de April. Mense wat wel die album soek, kan dit by Echo’s Music Bar in Brakpan of by my vertonings koop. Die publiek kan ook Suzette kontak by sue@rudiclaase.com of 082 416 8204 om ‘n CD te bestel.

Is daar iets wat jy wil byvoeg wat jy voel belangrik is?

Ek wil vir elke ondersteuner bedank. Sonder ondersteuners is ‘n sanger niks nie, maak nie saak hoe goed mens sing nie. Ek het al baie lesse in my lewe geleer en een van hulle is dit ek glad nie meer belangrik is as enige ander persoon nie. Ons is almal dieselfde, my werk is net anders.
Indien julle my wil bespreek vir enige skool, kerk, werk of privaat funksies, motiveerende praatjies of damesoggende, kontak asb vir Suzette by 082 416 8204 of sue@rudiclaase.com
Daar is ook nog so paar kaartjies beskikbaar vir die bekendstelling. Ons verkoop beperkte kaartjies en ons hou by alle Covid-maatreëls. Kaartjies kos R150 per persoon.

Also Read: Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

   

Related Articles

Back to top button