Local newsNews

Geniet Groet die Grotman 2 in die gemak van jou sitkamer

Lefra het 'n hele reeks kelderkonserte beplan wat tot 26 Julie aangebied gaan word

Groet die Grotman 2 is Lefra se derde kelderkonsert en word op 7 Junie om 5nm as regstreekse aanlyn digitale produksie uitgesaai.

Dit is 20 jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, e-posse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus.

Die skreeusnakse Wynand van Vollenstee (Karate Kallie) is te sien in die rol van Grotman, Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld. Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram).

“Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” het Swart gesê. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreld moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom sorg vir baie komiese situasies.”

Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het – meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar. Lefra het die Grotman nou vir die afgelope agt jaar laat rus in sy grot.

“Maar toe vanjaar spring daar ‘n nuwe Grotman uit wat sê hier is ek weer. Ek is uit my grot uit en het baie nuwe stories om te vertel,” het Swart vertel. “Dis 20 jaar later! Grotman en Elize is wyser = of is hulle? Het Grotman sy wêreld al verbreed om by Elize se wêreld aan te sluit? Het Elize haar wêreld vernou om so bietjie na Grotman se gefokusde wêreld te kom? Gehore moet kom kyk en lekker vir mekaar kom lag.”

Swart, wat al as die klugkoning van Suid-Afrika bestempel is, het die nuwe teks geskryf wat splinternuwe aksies tot gevolg het.

“Natuurlik moet ons by die teks hou, maar met Wynand van Vollenstee as die Grotman weet mens nooit nie. Hy is ‘n briljante akteur en lees elke aand die gehoor en pas ook sekere tonele aan om by die gehoor aan te pas. So mens weet nooit wat om te wagte te wees nie,” het Swart gesê.

LEES OOK: 

VIDEO: EG Jansen se revue bekoor senior burgers

Van Vollenstee het as jong akteur sy tande by Lefra kom slyp in klugte soos My Vrou se Man se Vrou. Daar het Swart hom al raakgesien as briljante komiese speler.

“Sy komiese tydsberekening is perfek en dan het hy die vermoë om enige karakter ongelooflik goed te vertolk. Glo my, in Groet die Grotman 2 vertolk hy ‘n swetterjoel karakters. Dit was net ‘n logiese keuse dat Wynand die volgende Grotman moes wees.

“Fliekgangers sal Van Vollenstee onthou as Kallie in die rolprent Karate Kallie, Bennie in Platteland en die braaivleisman in Superhelde. Televisisiekykers sal hom herken as Gielie in Ouboet en Wors. Op die verhoog was hy te sien as Barta in die produksie Fiela se Ander Kind en as Kleinboet in Ons vir Jou. Hy verskyn in twee van Lefra se klugte, naamlik My Vrou se Man se Vrou en later in My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou.”

Let daarop dat Groet die Grotman 2 slegs op 7 Junie uitgesaai gaan word. Lefra het ‘n hele reeks kelderkonserte beplan wat tot 26 Julie aangebied gaan word.

Kaartjies kos slegs R120 per huishouding om die volle produksie in jou eie sitkamer te geniet. Besprekings kan gedoen word by www.itickets.co.zaBespreek nou vir al die Lefra Kelderkonserte en kry ‘n afslag van R160. Steeds die winskoop van die eeu. Meer inligting by www.lefra.com of besprekings by www.itickets.co.za

LEES OOK: 

#Kelderkonserte: Kuier Sondag saam met Alwyn Oberholster se Golden Oldies

 

Related Articles

Back to top button