Local newsNews

#Kelderkonserte: Kuier Sondag saam met Alwyn Oberholster se Golden Oldies

Goue Oues met Alwyn Oberholster word op Sondag, 31 Mei, om 5nm as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai.

Vir slegs R65 per huishouding sal jy die volle produksie van Goue Oues met Alwyn Oberholster in jou eie sitkamer kan geniet.

Die konsert word op 31 Mei om 5nm as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai. Besprekings kan by www.itickets.co.za gedoen word.

Omdat kaartjies vir die hele gesin so goedkoop is, is daar ook ‘n donasie-opsie as jy bespreek om kunstenaars in Suid-Afrika te help.

Die lekkerte van die produksie is dat die speellys deur die publiek saamgestel word. Al wat jy moet doen, is om die volgende na 33000 te SMS: die kodewoord LEFRA, gevolg deur’n spasie, dan die naam van jou gunsteling goue oue liedjie, gevolg deur nog ‘n spasie, en dan jou naam en van en ook ‘n boodskappie aan iemand spesiaal. Dit kan ook ge-epos word aan wen@lefra.com.

LEES OOK: 

#Kelderkonsert Sondag: Helenè Bester sing Nana Mouskouri aanlyn

Die produksie word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings aangebied.

Op die ouderdom van ses het Alwyn sy passie vir musiek ontdek en so het sy sangloopbaan begin. Nadat hy in verskeie sangkompetisies deelgeneem het en nadat hy die “pub scene” behoorlik gedoen het, het hy besluit om die teater te betree met sy besondere Goue Oues-produksies. Die eerste Goue Oues is tydens die Oppiwater Kunstefees in 2017 vrygestel, en was die produksies een van die eerstes wat uitverkoop was.

Die Goue Oues-reeks is nou al ‘n instelling tydens die Oppiwater Kunstefeeste weens die gewildheid daarvan. Alwyn het ook tydens vorige Oppiwater Kunstefeeste opgetree met Beautiful Noise – A Tribute to Neil Diamond en Soen My, Druk My.

Alwyn is gewild en bekend onder gehore vir sy briljante vertolking van die ouer treffers deur sangers soos Billy Joel, Neil Diamond, Allen Jackson, die Staccatos, die Bee Gees en vele meer. Maar wat maak ‘n treffer tydloos? Wat maak van ‘n liedjie ‘n goue oue?

“Goue oues is daardie liedjies wat in jou herinneringe weerklink,” sê Alwyn. As jy die liedjie hoor, neem dit jou skielik terug na die verlede en al die herinneringe wat daarmee gepaard gaan. Goeie herinneringe. Jou eerste soen, jou eerste afspraak; goue herinneringe. Elke generasie het sy goue oues, en tydlose treffers sal aanhou floreer namate nuwe geslagte ouer wysies ontdek van die tyd toe hul ouers en/of grootouers groot geword het.

“Dit anker jou.” sê Alwyn. “Met die nuwe tegnologie kan die kinders van vandag ouer, tydlose treffers op hul fone of mp3-spelers ontdek en aflaai, en verseker dat die goue oues altyd tydloos bly.”

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, sê hy is baie opgewonde oor Alwyn Oberholster se Goue Oues as een van die Lefra Kelderkonserte.

“Ons teatermakers moes vinnig buite die kassie begin dink en ons was baie verbaas oor die goeie reaksie wat ons op ons Kelderkonserte ontvang. Dit word elke Sondag om 5nm regstreeks aanlyn en digitaal vir die hele familie aangebied en dis vir my so lekker dat gesinne saamkom en iets groots maak van die konsert. Onthou ons Kelderkonserte is konserte soos wat jy dit in ‘n teater sou sien. Ek glo ons interaktiewe aanslag dat gehore direk met ons kan kommunikeer dra ook by tot die sukses van die Lefra Kelderkonserte,” sê Swart.

LEES OOK: 

Afrikaans-Ekspo, die oplossing tot verveeldheid

Related Articles

Back to top button