EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Afrikaans-Ekspo, die oplossing tot verveeldheid

Alle Graad Een tot 12 leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië, asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word, kan gratis deelneem

Dalk is jy as ouer al radeloos om die kleinspan tydens die inperking besig te hou.

Dit is weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo.

Dié opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans fokus bied nou die perfekte tydsverdryf. Hulle sal nie net kreatief besig gehou word nie, maar staan ook die kans om pryse vir hulle en hul skool te wen.

Vanjaar se tema is musiek.

In 1937 het Afrikaanse musiek sy eerste tree gegee met die bekendstelling van die FAK-Sangbundel. Liedjies oos Bobbejaan klim die berg, Sarie Marais en Aanstap rooies is ou bekende volksliedjies wat al menige male om kampvure gesing is. Drie-en-tagtig jaar later bars Afrikaanse musiek steeds uit sy nate.

Ons dink aan legendes soos Sonja Herholdt, Anton Goosen, Anneli van Rooyen en Johan Stemmet wat baanbrekerswerk verrig het. Natuurlik is daar ook vandag kunstenaars soos Jak de Priester, Joshua na die Reën, Monique Steyn en Die Heuwels Fantasties wat nuwe geur en klank tot Afrikaanse musiek bring.

Alle Graad Een tot 12 leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië, asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word, kan gratis deelneem.

Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef met musiek as tema. Dit sluit in dagboekinskrywings, ’n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.

Graad Een tot Vyf leerders kan deelneem aan skilderkuns en poësie, terwyl alle ander leerders en studente aan al die kategorieë mag deelneem. Jy mag ook in een of meer kategorieë deelneem.

Die wenskool ontvang R10 000 en die vier algehele wenners wat die uitblinkers was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, opstel of gedig was, ontvang die wisseltrofee en R2 000 kontant vir sy of haar skool.

Inskrywings kan op twee maniere ingedien word: aanlyn by ekspo.fak.org.za of per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Alle inskrywings moet teen 11 Julie ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

Related Articles

Back to top button