Local newsNews

Oosrandse Sakevroue sluit jaar saam met Kevin Leo af

Met sanger Kevin Leo en feestlike gedekte tafels, kon die sakevroue die jaar in styl groet.

Die Oosrandse Sakevroue het onlangs die jaar met ’n onvergeetlike gala ontbyt te Summer Place afgesluit.

Antoinette Swanepoel het die verrigtinge met ’n kort en kragtige verwelkomingsboodskap en gebed begin.

Lede wat in November en Desember verjaar is daarna geluk gewens.

“Mag dit goed gaan met jou dieet,” het Antoinette die verjaarsdag dames toegewens.

Kevin het hierdie maand se gelukkige trekking gewen.

Daar was ook lekker pryse op die spel vir, onder andere, die jongste gas, oudste gas en die paartjie wat die langste getroud is.

Die Sakevroue het teruggekyk na ’n opwindende jaar wat verby is. Lief en leed is gedeel.

Hierdie jaar het die Sakevroue met bekendes soos Tobie Cronje, Tobie Jooste en Naka Drotske gekuier. Dr Daniel de Kock het hulle ook geleer hoe om blomme te rangskik en Dr Elmari Mulder Craig het ’n intieme gesprek met die vroue gevoer.

By die afsluitingsfunksie kon gaste nie net ’n driegangontbyt met sjampanje geniet nie, maar elke gas was ook met Sally Williams Nougat, tydskrifte en vermaak uit die boonste rakke bederf.

Kevin het met sy charisma, goue stem en skerp sin vir humor die gaste behoorlik op hulle voete gehad. Die gehoor het dit waardeer dat Kevin tydens sy optrede aandag aan die dames gegee het.

Die diversiteit van sy program het gesorg dat daar iets vir almal se smaak is. Hy het met ou Gé Kortsen bekendes soos Liefling, ’n Elvis treffer, ’n Italiaanse aria en Voshaarnooi, gaste ’n traan laat pink omdat nostalgie ingeskop het.

Gaste het aan sy lippe gehang toe hy ou staaltjies en herinneringe van sy loopbaan gedeel het.

Kevin het gaste ook aangemoedig om hul liefde vir mekaar te deel.

“Die wêreld sal ’n beter plek wees as ons meer liefde uitdeel,” het hy gesê.

Die Oosrandse Sakevroue is gereed vir die feesseisoen en sal weer volgende jaar bymekaar kom.

Related Articles

Back to top button